Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbok Selvyn jubel ná tyd in ‘woestyn’
Jy kan my nie vang nie! Selvyn Davids seil onder ’n Nieu-Seelander uit in die Hongkong-sewestoernooi in 2018. Foto: Getty Images

Dis wonderlik om ná maande van inperking weens die Covid-19-pandemie die eerste keer weer jou Blitsbok-spanmaats te sien – maar ook “eienaardig” omdat jy nie mekaar se lief en leed op die gewone manier kan deel nie.

So sê Selvyn Davids, nasionale sewesrugbyspeler, oor die “nuwe normaal” wat op hom en sy spanmaats in Stellenbosch gewag het.

Die Suid-Afrikaners het Dinsdag die eerste keer saamgetrek sedert die wêreld vroeg in Maart weens die virus op sy kop gekeer is.

Sedertdien het die vlugvoetige Davids en sy spanmaats deur middel van telefoonoproepe en Zoom-gesprekke met mekaar in verbinding gebly.

In Suid-Afrika word ’n handskud en dalk ’n hand op ’n skouer tydens ’n gesprek met ’n vriend as algemene praktyk beskou – of altans voor Covid-19.

“Die nuwe manier is nogal snaaks. Ons wil mos nou weet wat het met mekaar gebeur en hoe dinge staan, maar die naaste wat ons aan mekaar kan kom, is 1,5 m,” sê die 26-jarige Davids, wat erken die inperking was frustrerend.

“Maar ek is baie opgewonde om weer in spanverband te kan saamoefen. Dit is beslis beter as om op jou eie te oefen.

“Aan die begin (van die inperking) was dit nog oukei, want ons het gedink dit gaan net vir ’n rukkie wees, maar later het dit lank geword. Om maand in en maand uit nie jou spanmaats te sien nie, is nie lekker nie.”

Vreugde is om weer jou Blitsbok-spanmaats te sien. Selvyn Davids in die Singapoer-sewestoernooi in 2019. Foto: Getty Images

Die Blitsbokke is verlede week vir die koronavirus getoets, met al die toetse wat negatief teruggekom het. Dinsdag het elke speler onder meer mediese toetse ondergaan voordat die spelers Woensdag in groepies terug op die oefenveld sal wees. Maar dinge gaan nie met ’n knal afskop nie.

“Ek het nog nie aanvanklike doelwitte vir myself gestel nie, omdat ons dinge maar eers stadig gaan vat, veral in die gimnasium,” sê Davids.

“Ons het programme gekry wat ons tuis moes volg, maar dit is belangrik dat ons almal nou op dieselfde bladsy kom. Soos die dinge taaier raak en ons meer doen, sal ek wel sien wat my doelwitte is.”

Davids was tydens die inperking by sy ouerhuis in Jeffreysbaai in die Oos-Kaap en het eers verlede week na die Wes-Kaap teruggekeer. Op die tong-in-die-kies-vraag of hy nie later met sy familie uitgekuier geraak het nie, sê Davids dat dit vir hom in daardie opsig ’n goeie tyd was.

“Dit was lekker om meer tyd saam met my familie deur te bring. Gewoonlik sien ek hulle maar min. Ek was die laaste keer in 2014 so lank by die huis.

“Nou moet ek seker maar daaraan gewoond raak dat ek hulle in die toekoms weer min gaan sien.”

• Daar blyk intussen planne te wees om wel vanjaar die Dubai-sewestoernooi aan te bied. Wêreldrugby het onlangs die eerste twee toernooie van die nuwe seisoen, dié in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) en Kaapstad, afgelas.

Tog het die Dubai-toernooi in ’n verklaring sy voorneme bekend gemaak om op 4 en 5 Desember gasheer te wees vir onder meer ’n sewesrugbytoernooi. Die beoogde toernooi is, volgens die verklaring, onderhewig aan goedkeuring deur die relevante owerhede.

Sou die toernooi wel gespeel word, sal dit nie deel vorm van Wêreldrugby se amptelike sewesreeks nie.

Onlangs is aangekondig dat die Indiese Premierliga-kriekettoernooi, wat op 19 September begin, vanjaar in die VAE beslis sal word.


Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.