Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbok Shakes dalk tydelik in Bul-kraal
Siviwe Soyizwapi in aksie vir die Oostelike Provinsie in ’n kragmeting in die Curriebeker-reeks in 2016. Foto: Gallo Images

In ’n poging om sewesrugbyspelers broodnodige wedstrydtyd te gee én finansiële verligting te bring, kan ’n Blitsbok soos Siviwe Soyizwapi waarskynlik vanjaar vir die Blou Bulle in die Curriebeker-reeks uitdraf.

Sou dit wel gebeur, sal dit die eerste keer sedert 2016 wees dat die 27-jarige Soyizwapi, kaptein van die nasionale sewesspan, 15-man-rugby speel. Hy het voorheen vir die Oostelike Provinsie as vleuel en heelagter diens gedoen.

Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), erken die kansellasie van die oorblywende vier toernooie van Wêreldrugby se sewesreeks is ’n terugslag. Dié toernooie is die afgelope week afgelas weens die Covid-19-pandemie. Dit het ook ’n direkte invloed op die geldkoffers van Saru.

Dit het ’n groot finansiële impak op SA Rugby se sewesprogram, op die hele SA Rugby natuurlik, maar spesifiek in sewes.
Marius Schoeman

“Die seisoen wat afgelas is, het beslis ’n uitwerking op die beplanning van ons sewesprogram. Dit het ’n groot finansiële impak op SA Rugby se sewesprogram, op die hele SA Rugby natuurlik, maar spesifiek in sewes,” sê Schoeman.

Soyizwapi, alombekend as Shakes, was die laaste keer in Desember vir die Blitsbokke in aksie waar hy beseer is. Dít het hom uit die vier sewestoernooie vroeër vanjaar gehou. Dit is natuurlik nie ’n nuutjie dat Blitsbokke, soos byvoorbeeld Stedman Gans, 15-man- én sewesrugby speel nie.

Stedman Gans is een van die Blitsbokke wat gereeld sewes- en 15-man-rugby speel. Foto: Gallo Images

“Daar is ’n paar van ons senior spelers wat ons beslis sal vrystel om ’n bietjie Curriebeker te speel. Ons het spelers soos Angelo Davids, Kurt-Lee Arendse en Christi Grobbelaar, wat almal by die WP gaan speel. Dan het ons Stedman Gans wat nou by die Bulle gaan aansluit en daar is ’n moontlikheid dat ’n speler soos Siviwe Soyizwapi ook vir die res van die seisoen vir die Bulle beskikbaar sal wees,” sê Schoeman.

“Of dalk net vir ’n paar maande totdat ons hulle weer inroep, afhangende van die datums van die toernooie in Kaapstad en Dubai (wat tradisioneel in Desember beslis word).”

Die hoofrede hiervoor is dat spelers nou lank uit rugby was.

“So ons sal beslis ván hulle vir kort tye aan unies uitleen, eerstens sodat hulle wedstrydtyd kan kry en tweedens vir ’n klein bietjie finansiële verligting as ons die spelers uitleen.”

Intussen is Schoeman-hulle besig om die gekontrakteerde groep spelers vir die volgende seisoen te finaliseer. Met die Olimpiese Spele wat in 2021 beslis word en die Statebondspele en Wêreldbeker-sewestoernooi in 2022 moet hy seker maak dat hy genoeg spelers van die regte gehalte het.

“Dit was natuurlik vanjaar ’n beproewing en uitdaging wat ons werwing betref, veral met die jong spelers, omdat daar min rugby was. Maar gelukkig werf ons nie net spelers per jaar nie. Ons hou spelers vir twee of drie jaar dop voordat ons hulle in die stelsel sit,” sê Schoeman.

Marius Schoeman, hoëprestasiebestuurder van sewesrugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

“So ons kry definitief ’n paar jong spelers volgende jaar by. Ons sal ons groep ’n klein bietjie vergroot met die oog op die siklus van die volgende vier jaar.”

Hy het ook laat deurskemer dat strydrosse wat deesdae hoofsaaklik 15-man-rugby speel, soos Werner Kok, Ruhan Nel, Rosko Specman, Seabelo Senatla en Hacjivah Dayimani, almal steeds deel van die Blitsbokke se toekomsplanne uitmaak.

Die nasionale sewesspan hoop om op 3 Augustus met sy voorseisoense voorbereiding te begin en kan na verwagting ’n paar toernooie reël om skerp te wees vir wanneer die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks begin.

Meer oor:  Siviwe Soyizwapi  |  Stedman Gans  |  Marius Schoeman  |  Pretoria  |  Suid-Afrika  |  Wereldreeks  |  Covid-19  |  Rugby  |  Blitsbokke  |  Bulle  |  Sewesrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.