Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbok Zain wil ‘nie net oefen’

Juis omdat die Blitsbok Zain Davids van rugby hou en nie net op die oefenveld wil wees nie, sien hy uit na die uitdaging om vir die Haaie te speel.

Zain Davids op die aanval tydens ’n kragmeting met Frankryk in die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Davids (23), ’n boorling van Kaapstad, het hom vandeesweek as ’n leenspeler by die KwaZulu-Natallers aangesluit vir die plaaslike reeks, wat op 10 Oktober begin.

Hy het Dinsdag reeds sy eerste oefensessie in Durban gehad.

Daar heers steeds onsekerheid oor wanneer Wêreldrugby se sewesreeks gaan hervat, met geen internasionale toernooie op die horison nie.

“Ek is altyd opgewonde oor nuwe uitdagings in rugby, veral om die sprong van sewes na 15’s te maak – ook omdat ek van albei formate van die spel hou,” sê Davids.

“Ons oefen by die sewes en ons hou daarvan, maar ons almal hou daarvan om te speel. Ek mis dit om te speel.”

Davids, ’n flank, is heel op sy gemak in die langer weergawe van die spel. Hy het immers die Suid-Afrikaanse Skolespan en later die Junior Springbokke verteenwoordig.

Hy het ook vir die Westelike Provinsie op o.21-vlak gespeel.

Hoewel hy weet dat daar vir hom groot uitdagings gaan wees, verhoed dit hom nie om groot te droom nie.

“Dit gaan nie maklik wees nie. Ek sal moet gewoond raak aan die fisiekheid van 15’s. Dit gaan ’n reusesprong van kondisionering (by die Blitsbokke) wees tot om weer 15’s te speel. In sewes fokus ons op spoed en die vinnige beweging van die liggaam, terwyl daar in 15’s meer kontak is,” sê Davids.

Zain Davids tydens ’n oefensessie van die Haaie Dinsdag in Durban. Foto: Gallo Images

“Ek wil net my beste lewer vir die span en my spanmaats. Maar veral wil ek dit geniet en doen wat van my verwag word.

“My droom is beslis om die Springbok-span te haal, maar eerstens moet ek die span by die Haaie haal en goed vertoon,” sê hy.

Iemand wat in sy speeldae sewes én vyftienman-rugby gespeel het, is Kabamba Floors. Dié oud-Blitsbok dink nie Davids gaan die oorgang te moeilik vind nie.

“Die moeilike uitdaging is eintlik vir spelers wat van 15’s na sewes skuif. Dit gaan oor die struktuur en die stelsel (by die Haaie), maar dit gaan nie eintlik ’n groot uitdaging vir hom wees nie, sê Floors, afrigter van die Maties se Young Guns.

“Zain se spoed en hoe hy meeding om die losbal gaan tot voordeel van die Haaie wees. Hy is iemand wat daarvan hou om spasie aan te val en sy koms gaan ook druk op James Venter (die Durbaniete se oopkantflank) plaas.

“Maar met Zain kan die Haaie ook die geleentheid hê om spelers te roteer.”

Davids sal ook nie eensaam in Durban wees nie, met Werner Kok en Muller du Plessis, wat saam met hom vir die Blitsbokke speel, wat ook daar is.

Meer oor:  Haaie  |  Sewes  |  Blitsbokke  |  Zain Davids  |  Bulle  |  Superrugby  |  Superfan-Wedstryde  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.