Desondanks die Blitsbokke se vrotsige vertoning die afgelope naweek in die Hamilton-toernooi, het hulle ’n relatief gunstige loting vir die volgende toernooi in Wêreldrugby se sewesreeks gekry.
Suid-Afrika bevind hom saam met Frankryk, Argentinië en Samoa in Groep B vir die Sydney-toernooi, wat Saterdag in Australië begin.

Die Blitsbokke se JC Pretorius die afgelope naweek in aksie teen Japan by die Hamilton-sewestoernooi in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images
Die loting word bepaal volgens waar spanne die vorige toernooi klaargemaak het. Suid-Afrika het ’n teleurstellende tiende geëindig. Frankryk was die naaswenner, terwyl die Argentyne sewende klaargemaak het. Die Samoane moes met die 15de plek tevrede wees.
Slegs die voorste span in elke groep sal ook soos die geval die afgelope naweek was deurdring tot die uitspeelrondes.
Die Hane vertoon die seisoen baie goed en het verlede maand derde in die Kaapstad-toernooi geëindig.
Tog sal Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, straks ’n sug van verligting slaak oor die loting. Slaag sy span daarin om vir die halfeind te kwalifiseer, sal hy teen die wenner van Groep C te staan kom.
Dié groep bestaan uit Australië, Amerika, Skotland en Japan.
Maar die grootste vuurwerk wag straks in Groep A, wat bestaan uit Nieu-Seeland, Fidji, Kenia en Wallis.
Die Kiwi’s, die verdedigende kampioen in Sydney, het die afgelope naweek in Hamilton gewen, nadat hulle ook in die Moederstad koning gekraai het.
Maar die Fidjiane sal beslis sake wil regstel, nadat hulle – net soos Suid-Afrika – nie die uitspeelrondes in Hamilton kon haal nie. Fidji het verlede seisoen die reeks gewen en is die Olimpiese kampioen.
Groep D bestaan uit Engeland, Kanada, Ierland en Spanje.
Suid-Afrika se bepalings in die groepwedstryde in Sydney (SA tye): Saterdag: 03:41: t. Argentinië, 09:30: t. Frankryk. Sondag: 02:51: t. Samoa.