Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke ‘kan net hulself blameer’

Dit is seker te verstane dat die Blitsbokke se afrigter, Neil Powell, ’n omgekrapte man was nadat sy span Saterdag teen Engeland in ’n groepwedstryd van die Hamilton-sewestoernooi in Nieu-Seeland verloor het.

Die Blitsbok Justin Geduld word deur ’n Engelsman beetgekry Saterdag in Hamilton. Foto: Getty Images

Die Engelse het Suid-Afrika met 21-19 geklop en daarmee Powell se troepe se kans om die uitspeelrondes te haal in die wiele gery.

“Ek is glad nie tevrede met ons vertoning nie, veral nie teen Engeland nie (die Blitsbokke het Japan vroeër met 31-5 geklop). Ons het ongelooflik baie foute gemaak wat hulle geleenthede gegee het om drieë te druk, of balbesit te verkry.

“Ons kan net onsself blameer vir die feit dat ons teen hulle verloor het. Dit is nie ’n geval dat hulle (Engeland) goed gespeel het en ons gewen het nie. Ons het swak gespeel en teen onsself verloor,” sê Powell.

Daar is aanvanklik verstaan dat Suid-Afrika nog op ’n beter punteverskil kan deurdring na die halfeind indien Engeland in sy laaste groepwedstryd teen Japan verloor. Wêreldrugby het intussen in ’n verklaring bevestig dat Engeland reeds deurgedring het, selfs al verloor hulle teen die Japanners. Dit omdat dit afhang wie die groepwedstryd tussen die twee spanne wat gelykop sou eindig gewen het.

Teen die Engelse het die Blitsbokke gesukkel by die afbreekpunte en hul verdediging, wat die laaste paar jaar hul sterkpunt was, was by tye skokkend.

Die Blitsbokke se vertoning Saterdag het hul breier, Neil Powell, omgekrap. Foto: Gallo Images

“Die verdediging was nie regtig op standaard nie. As hulle van ’n eerste fase van die lynstaan af gaan druk, moet ons baie hard na onsself gaan kyk.

“Maar die wedstryd is verby en ons moet maar die hou op die ken vat,” sê Powell.

In die eerste paar minute van die wedstryd was Suid-Afrika aanvanklik goed en in beheer, maar het die Engelse toegelaat om terug in die wedstryd te kom.

Toe Justin Geduld kort voor die einde oorduik om die Blitsbokke se agterstand na twee punte te laat krimp, was daar hoop vir minstens ’n gelykopuitslag. Maar toe mis Geduld met die doelskop, en sit Suid-Afrika se turf.

Die einste Geduld het ook in die eindstryd van die Kaapstad-toernooi in Desember met ’n doelskop teen Nieu-Seeland misluk, wat Suid-Afrika ook daar gelykop kon laat eindig het.

* Saterdag se ander uitslae: Kanada 26, Ierland 21; Frankryk 21, Spanje 17; Engeland 24, Kenia 19; Australië 38, Argentinië 7; Fidji 19, Samoa 12; VSA 24, Skotland 7; Nieu-Seeland 47, Wallis 0; Ierland 28, Spanje 17; Frankryk 12, Kanada 12; Kenia 12, Japan 12; Argentinië 40, Samoa 0; Fidji 19, Australië 12; Skotland 24, Wallis 19; Nieu-Seeland 26, VSA 5.

* Die Blitsbokke se laaste groepwedstryd teen Kenia begin om 01:13 (SA tyd) regstreeks op SS1.

Meer oor:  Neil Powell  |  Blitsbokke  |  Engeland  |  Sewesreeks  |  Hamilton-Sewestoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.