Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse kan nie ‘selfvoldaan’ wees

Die resep vir Blitsbokke om die seisoen op ’n hoogtepunt af te sluit, is om die basiese dinge reg te doen, “dan sal die ander dinge in plek val”.

So sê Sako Makata (20), een van die nuwe geslag Suid-Afrikaanse sewesspelers, wat vroeër vanjaar sy debuut vir die Blitsbokke gemaak het.

Die Blitsbok Sako Makata op pad na sy drie teen Kanada in die sewestoernooi in Singapoer. Foto: Getty Images

Suid-Afrika kom die naweek in die voorlaaste toernooi van die seisoen in Londen te staan en groot verwagtinge word vir dié span gekoester. Dít ná hul spogvertoning in April toe hulle die toernooi in Singapoer gewen het.

“Om op ’n hoogtepunt te eindig, moet ons konsekwent in ons vertonings wees. Ons moet hou by die basiese dinge en dit reg doen. As ons daarna kyk, sal al die ander dinge in plek val,” sê Makata, wat as voorspeler diens doen.

Met ander jongelinge soos JC Pretorius en Muller du Plessis, wat albei weer beskikbaar is ná beserings, is nog ’n goeie vertoning deur Suid-Afrika in Londen beslis nie vergesog nie. Dit maak egter ook die wedywering vir ’n plek in die Blitsbok-span ’n werklikheid. Iets waaroor Makata, wat in Maart sy buiging vir die Blitsbokke in die toernooi in Las Vegas gemaak het, geen illusie het nie.

“Daar is sterk mededinging om ’n plek in die span, maar ek dink dit is goed, want dit bring die beste in elke speler na vore. Dit keer dat daar selfvoldaanheid is.”

Een van die dinge wat vir hom van die seisoen uitstaan, was toe hy sy eerste drie vir die Blitsbokke, teen Kanada in Singapoer, gedruk het.

“Om uiteindelik op die telbord te kon wees, was ’n hoogtepunt. Dit is altyd lekker om ook punte vir die span by te dra,” sê Makata.

“Sover was die seisoen lekker, dit is lekker om as jong speler te vorder en uiteindelik vir die Blitsbokke gekies te word. Ek is tevrede met hoe die seisoen verloop het. Ja, dit stel nogal eise aan jou liggaam, maar dit is deel van die werk.”

Dit was danksy rugby, die sport wat Makata op laerskool begin speel het, dat hy ’n beurs gekry het om Stirling High School in Oos-Londen by te woon.

Elke keer as Makata vir die Blitsbokke op die veld draf, is daar iets wat hom druk om sy beste te gee.

“My ouers (Malibongwe en Nosizwe) motiveer my om my beste te gee. Hulle het baie opgeoffer vir my om te wees waar ek is,” sê hy.

“Ek wil in ’n posisie wees waar ek vir hulle kan teruggee. Hulle het baie geld en tyd daaraan bestee om seker te maak dat ek is waar ek vandag is.”

Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.