Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kurt-Lee-hulle kan kook in 2021
Kurt-Lee Arendse laat waai teen Japan gedurende die Hongkong-sewestoernooi in 2019. Foto: Getty Images

Die uitstel van die Olimpiese Spele vanjaar het sekere sportlui, in die skemerlig van hul loopbane, van deelname aan dié skouspel beroof, maar vir ’n paar Blitsbok-groentjies is dit straks soos manna uit die hemel.

Neil Powell, afrigter van die nasionale sewesspan, het Dinsdag gedurende ’n webinaar van die Suid-Afrikaanse Rugbylegendes-vereniging wel nie weggeskram van die werklikhede nie.

Die uitstel van die Spele beteken dat ’n speler soos die strydros Cecil Afrika die bus verpas het, maar jonges soos Kurt-Lee Arendse en JC Pretorius kan in 2021 selfs nog beter wees.

“Ek dink ons beplanning vir die Spele in 2020 was baie goed. Ons het ons spelers in die Wêreldreeks geroteer. Daar is steeds onsekerheid oor die seisoen wat die Spele voorafgaan (weens die impak van die Covid-19-pandemie), wat dit moeilik maak om vir die Spele in 2021 te beplan,” sê Powell.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. Foto: Gallo Images

“Maar ek dink die ongelooflike ding van die uitstel, is dat wat ook al ons verkeerd gedoen het in daardie eerste ses toernooie (in Wêreldrugby se sewesreeks), ons nou die kans kry om reg te stel.

“Ek fokus eerder op die positiewe as die negatiewe dinge. Een goeie ding is byvoorbeeld dat iemand soos Kurt-Lee Arendse, wat weens sy gebrek aan ervaring op die randjie van insluiting was, nou nog ses toernooie sal kry om ervaring op te doen. Dit geld ook Angelo Davids en ander jonger spelers soos JC Pretorius en Ryan Oosthuizen.

“Hulle was op die randjie van insluiting, nie oor hul talent of peil nie, maar oor ervaring. Nog meer toernooie op hul kerfstok sal nou hul kanse verbeter om die span vir die Spele te haal en hopelik daar suksesvol te wees.”

Wêreldrugby beplan dat die Wêreldreeks nou in April met die toernooie in Singapoer en Hongkong sal begin. Dít nadat die eerste vier toernooie van die nuwe seisoen vroeër afgelas is.

Die Blitsbokke sal intussen probeer wedstrydfiks bly, met toernooie op tuisbodem wat vir November beplan word.

Daar is natuurlik nóg ’n geelwortel vir die spelers. Die Wêreldbeker-sewestoernooi word in 2022 in Kaapstad beslis. Dit kan help om die gewildheid van die korter weergawe van die spel te laat groei – veral as die Blitsbokke die toernooi kan wen.

Die Suid-Afrikaners kon nog nooit daarin slaag om dié Wêreldbeker te wen nie. Hul beste poging was in 1997, toe hulle die naaswenners was.

“Met die Wêreldbeker wat hier beslis word, sal dit vir die Suid-Afrikaanse spelers soortgelyk aan die profiel van die Spele wees. Dit sal reusagtig vir ons wees om hopelik suksesvol in Kaapstad te wees,” sê Powell.

“Dit gee ons ook ’n voordeel bo die ander spanne. Ons is altyd op die uitkyk om die profiel van sewes in Suid-Afrika te verbeter, sodat ons meer skolespelers geïnteresseerd kan kry om te speel.”

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Sewes  |  Neil Powell  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.