Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke moet nou ‘voete op grond hou’

Met die Blitsbokke se sege in die Doebai-sewestoernooi Saterdag het hulle ’n waarskuwing aan die ander spanne in Wêreldrugby se sewesreeks gestuur.

Suid-Afrika het Nieu-Seeland, die 2018-kampioen in Doebai, met 15-0 in die eindstryd van die eerste toernooi van die nuwe seisoen geklop.

Dankie, en daar vat hy! Die Blitsbokke vier uitbundig fees nadat hulle Saterdag as die kampioen van die Dubai-sewestoernooi gekroon is. Foto: Getty Images

Maklik was dit beslis nie, met die wenspan wat teen rustyd net met 5-0 voor was.

Maar waar die Blitsbokke verlede seisoen by tye effens wisselvallig op die aanval was, was hulle veral in die eindstryd in dié aspek van hul spel in ’n klas van hul eie.

Met volop balbesit was Rosko Specman verwoestend en het hy kringe om die Kiwi’s gehardloop.

Die een bekommernis wat daar wel was, was die samespel.
Neil Powell

Die enigste skrale troos vir die Nieu-Seelanders is dat Specmagic – soos Specman bekend staan – die hele naweek in ’n omgekrapte bui was en al Suid-Afrika se teenstanders laat bontstaan het.

Maar ’n span moet die bal hê om die veld vol te hardloop en dit is hier waar spelers soos Ryan Oosthuizen, Chris Dry, Dylan Sage en Ruhan Nel ’n pluimpie verdien.

Hulle het in al die Blitsbokke se wedstryde amok by die afbreekpunte gemaak.

Dit is seker te verstane dat Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, ná die eindstryd soos ’n kat was wat melk gekry het. Maar hy weier om meegevoer te word.

“Die ouens het baie goed gehou by dit wat ons voor die tyd bespreek het. Hul verdediging was ongelooflik in daardie wedstryd (teen die Kiwi’s).

“Dit gaan belangrik wees dat ons ons voete op die grond hou. Dit is nog nie perfek nie. Ons fokus nie op die uitslag nie, maar op dit was ons wil implementeer van die prosesse.

Staan daardie kant toe! Die Blitsbok Justin Geduld probeer ’n Nieu-Seelander Saterdag in die eindstryd ontwyk. Foto: Getty Images

“Ons sal baie hard, maar slim dié week te werk gaan om te verseker ons is reg vir Kaapstad,” sê Powell.

Die Blitsbokke se sogenaamde huursoldate, Specman, Sage, Nel en Seabelo Senatla, was die hele naweek uitstaande. Hulle keer almal ná die Kaapstad-sewestoernooi terug na hul Superrugby-spanne.

“Ja, die spelers van die vyftiens was goed. Ons het altyd geweet hulle sal hul alles gee. Hulle was al in die stelsel en weet waarvoor ons staan.

“Die een bekommernis wat daar wel was, was die samespel. Dit was in die eerste wedstryd teen Kenia (Donderdag) ’n effense gesukkel, maar daarna het hulle mekaar gevind,” sê Powell.

* Die toernooi in die Moederstad begin Vrydag.

* Die Blitsbokke is egter nie die enigste Suid-Afrikaanse span wat met silwerware uit Doebai teruggekeer het nie. Die Akademiespan, met sterre soos Werner Kok en Cecil Afrika in sy geledere, het ’n uitnodigingstoernooi gewen.

Suid-Afrika het die Royal Jesters in die eindstryd met 28-12 geklop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.