Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke: ‘Ons kan nog beter speel’

Die Blitsbokke staar hulle nie blind teen hul goeie vertoning op die eerste dag van Wêreldrugby se sewesreeks in Londen nie, sê Renfred Dazel, die span se hulpafrigter.

Boksprong tot in die kwarteindronde! Werner Kok Saterdag in aksie teen Japan in Londen. Foto: Getty Images

Die Blitsbokke het drie indrukwekkende vertonings op die eerste dag gelewer. Hulle het Japan (49-0), Kanada (45-14) en Argentinië (40-21) met minagting uit die pad gevee.

Suid-Afrika kom Sondag in die kwarteindronde teen Australië te staan. Die Aussies, wat tweede in Groep D geëindig het, het op die eerste dag met Wallis (28-10) en Spanje (42-12) afgereken, maar naelskraaps teen Amerika (17-19) vasgeval.

“Dit was ’n goeie dag vir ons aangesien ons al drie wedstryde gewen het en die spelers op die bank ook speelkans gekry het. Ons is dus baie positief vir Sondag.

“Maar daar is nog ’n paar dinge wat ons kan beheer met die jong manne wat op die veld gaan. Daar is baie energie, maar ons het nie altyd die nodige beheer gehad nie en twee maklike drieë weggegee (teen Argentinië),” sê Dazel.

Sondag gaan ’n ander uitdaging bied met Amerika en Fidji wat ook beïndruk en die eerste dag onoorwonne afgesluit het. Nie dat die Aussies swak is nie, maar dis hulle wat in die pad na die titel staan.

“Australië vaar ook goed met die bal in die hand en hulle het vandag net teen Amerika verloor. Ons gaan die kwarteindronde benader soos enige ander wedstryd.

“Ons is baie goed met die bal in die hand, maar by die afbreekpunte kan ons nog harder werk,” sê Dazel.

Slaag die Blitsbokke daarin om die Aussies te klop, sal hulle in die halfeindronde teen die wenner van die wedstryd tussen Nieu-Seeland en Frankryk te staan kom.

In die ander kwarteindstryde kom Amerika teen Kanada te staan, en Fidji en Ierland is slaags. Dit beteken dat Fidji en Amerika waarskynlik in die ander halfeind gaan speel.

Die grootste verrassing van die eerste dag is straks dat die tuisspan, Engeland, nie vir die kwarteindronde gekwalifiseer het nie. Hoewel die Engelse Nieu-Seeland in hul laaste wedstryd met 17-12 geklop het, was dit nie genoeg om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer nie. Ierland, wat Engeland vroeër met 21-17 geklop het, bevind hom in die kwarteindronde nadat hy tweede in Groep C, ná die Kiwi’s geëindig het.

* Sondag se bepalings vir die kwarteindronde: 11:58: Suid-Afrika t. Australië, 12:20: Nieu-Seeland t. Frankryk, 12:42: Amerika t. Kanada, 13:04: Fidji t. Ierland.

Alle wedstryde is regstreeks op SS 7.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke  |  Londen  |  Renfred Dazel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.