Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke se ‘verlore kinders’ terug in kraal

Hy het byna “dood neergeslaan” tydens ’n oefensessie van die Suid-Afrikaanse Sewesakademie Donderdag in Stellenbosch, sê Ruhan Nel.

Ruhan Nel by 'n oefensessie van die SA Sewesakademie Woensdag in Stellenbosch. Foto: Verskaf

Dié 28-jarige Nel, wat vanjaar weer Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie gespeel het, het die afgelope week ná ’n afwesigheid van langer as ’n jaar hom weer by die Blitsbokke aangesluit ... en vinnig agtergekom dat die ervaring van 30 toernooie vir die Blitse nie ’n waarborg is dat jou asem gaan hou nie.

“Ons het vanoggend ’n fiksheidsessie gehad en ek was byna dood. Die ouens wat nou aan die Oktoberfest (in München, Duitsland) die naweek deelneem, sou dié sessie sommer maklik gedoen het.

“My grootste fokus is nou om weer fiks te word. Ek en coach Neil (Powell, afrigter van die Blitsbokke) was van die begin af eerlik met mekaar. Wat in die verlede bereik is, tel niks nie,” sê Nel.

Hy is een van ’n paar spreekwoordelike “verlore kinders” wat die afgelope jaar of wat vyftienman-rugby gespeel het wat weer by die Akademie aangemeld het.

Seabelo Senatla, Dylan Sage en Rosko Specman is die ander, met die Olimpiese Spele in 2020 in Japan die mikpunt.

“Dit is wonderlik om terug te wees. ’n Mens besef eers wat jy mis nadat jy weg is.

“Maar vir eers is my doelwit om die groep vir die eerste twee toernooie (in Desember in Dubai en Suid-Afrika) te haal,” sê Nel.

Hy praat openlik oor die teleurstelling nadat hy in 2018 deur die Springbokke vir die Rugbykampioenskap betrek is én ook saam met hulle in Europa getoer het, maar nooit die wedstrydgroep gehaal het nie.

“Dit was ’n helse leerproses vir my en dit is steeds ’n trotse oomblik vir my. Dat ek daar was, beteken dat Rassie (Erasmus, afrigter van die Bokke) iets in my gesien het.

“Natuurlik wou ek graag gespeel het, maar ek was van die begin af eerlik met myself. Ek het destyds nog nie eens Superrugby gespeel nie. Ek het aan myself gesê: ‘Ruhan, doen jou beste, as dit so bestem is, sal dit wees’,” sê Nel.

Ruhan Nel tydens vanjaar se Curriebeker-reeks in aksie vir die Streeptruie. Foto: Gallo Images

Vir dié boorling van Port Elizabeth wat aan die Hoërskool Brandwag in Benoni gematrikuleer het, is dit niks vreemd om dinge so bietjie anders as die norm te doen nie.

Nel het nooit op skool Cravenweek-rugby gespeel nie en later sy pad oopgeveg deur koshuisproewe by Tuks om die eerste keer raakgesien te word.

Ná ’n suksesvolle tyd by die Blitsbokke, was hy deel van die Westelike Provinsie se span wat in 2017 die Curriebeker gewen het, waarna hy op Erasmus se radar verskyn het – sonder Superrugby-ervaring.

Nou, in Stellenbosch, is Nel weer besig om in die sweet van sy aangesig opvattings op hul kop te keer.

* Powell sê die toernooi die naweek in Duitsland is die ideale geleentheid vir die Blitsbokke om ’n paar nuwe dinge op die proef te stel. Suid-Afrika kom Saterdag teen Nieu-Seeland, Engeland en Australië te staan.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke  |  Ruhan Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.