Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke trap Japan se tjank af
Die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, was op die plaasvervangersbank. Foto: Gallo Images

Die grootste uitdaging vir die Blitsbokke se wedstryd teen Japan op die eerste dag van die Kaapstad-sewestoernooi was straks dat die tuisspan nie die wedstryd met die nodige erns sou benader het nie.

Gelukkig was dit nie die geval nie, met Suid-Afrika wat die Japannese Vrydag met 49-0 afgeransel het. Die tuisspan, met Seabelo Senatla en Kurt-Lee Arendse aan die spits, het te veel vaart en vaardighede vir die besoekers gehad.

Dylan Sage. Foto: Getty Images

Boonop het Dylan Sage sy teenwoordigheid met ’n paar goeie duikslae laat geld. Hy het die Blitsbokke gelei, met die kaptein, Siviwe Soyizwapi, wat op die plaasvervangersbank begin het.

Rosko Specman is vroeg in die wedstryd koelkas toe gestuur nadat hy ’n bal afgeklap het.

Japan het ’n Suid-Afrikaanse geurtjie aan sy afrigtingspan in Kaapstad, met die voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu wat hom as raadgewer bystaan. Dit het die Japannese nie veel gehelp nie.

Die Blitsbokke se aandag verskuif nou na Saterdag wanneer dit letterlik maak of breek vir hulle is, met Fidji en Amerika wat in hul oorblywende groepwedstryde wag. Die Fidjiane het verlede seisoen die reeks gewen, terwyl Amerika toe die strooijonker was.

Een van dié drie spanne gaan nie die kwarteindronde haal nie. So verwag ’n katgeveg soos min.

Die Amerikaners is reeds met hul rug teen die muur nadat Fidji hulle in die twee spanne se groepwedstryd met 28-14 geklop het.

Die Fidjiane sal ’n punt wil bewys nadat Suid-Afrika die vorige keer toe die twee spanne kragte gemeet het, gewen het. Dit was verlede seisoen in die eindstryd van die Singapoer-toernooi toe die Blitsbokke danksy ’n strafdoel deur Selvyn Davids laat in die wedstryd gewen het.

Die rekordboeke is boonop aan Fidji se kant. Die Fidjiane was in 51 van die 88 keer dat hy teen Suid-Afrika in Wêreldrugby se sewesreeks slaags was, aan die wenkant. Die Blitsbokke het 35 keer gewen, terwyl twee wedstryde gelykop geëindig het.

Om die Amerikaners en Fidjiane albei Saterdag bloedneus te slaan, sal nie net die Blitsbokke van ’n plek in die uitspeelrondes verseker nie, maar hulle ook laat oorloop van selfvertroue.

Om die Amerikaners en Fidjiane, wat in 2018 in Kaapstad gewen het, albei Saterdag bloedneus te slaan, sal nie net die Blitsbokke van ’n plek in die uitspeelrondes verseker nie, maar hulle ook laat oorloop van selfvertroue.

En dit sal ook ’n tydige waarskuwing aan ander teenstanders rig dat die tuisspan ernstig daaroor is om Sondag die eerste keer sedert 2015 as kampioen gekroon te word.

Puntemakers:

Suid-Afrika 49 (21): Drieë: Seabelo Senatla (2), Kurt-Lee Arendse (2), JC Pretorius, Selvyn Davids, Ruhan Nel. Doelskoppe: Justin Geduld (4), Rosko Specman (3).

Japan 0.

Die Blitsbokke se wedstryde Saterdag: 13:51: SA t. Fidji, 20:03: SA t. Amerika (SS 1, GDN).

Meer oor:  Seabelo Senatla  |  Dylan Sage  |  Ruhan Nel  |  Kaapstad  |  Sewesrugby  |  Wereldreeks  |  Blitsbokke  |  Kaapstad-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.