Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke wat Super-spelers word, is reeds superfiks
Kwagga SmithFoto: Getty Images

Die Blitsbokke wat hul rugbyheil vanjaar in Superrugby sal opsoek, sal fisiek en fiks genoeg wees om meer as hul man te staan in die langer weergawe van die spel.

Dit is die mening van dr. Sharief Hendricks wat aan die sportwetenskapinstituut in Nuweland verbonde is.

Blitsbok-galácticos soos Kwagga Smith (Leeus) en Seabelo Senatla (Stormers) het hulle ná wêreldklasvertonings in sewesrugby by Superrugbyspanne aangesluit.

“Daar sal egter ander eise aan hulle gestel word,” het Hendricks by navraag aan Netwerk24 gesê.

“ ’n Groot verskil waarin spelers soos Kwagga en Seabelo gewoond moet raak, is die tydsduur. Hulle is gewoond aan wedstryde van 14 minute in hoë intensiteit en hulle sal nou ewe skielik 80 minute moet speel.

“Die struktuur van sewesrugby, waar toernooie in skofte aangebied word, asook rotasie, het aan hulle die kans gebied om te rus. In Superrugby sal hulle byna elke week moet speel.”

Hendricks sê wel sewesspelers het die regte tipe fiksheid om na die 15-man-weergawe oor te skakel.

Seabelo Senatla Foto: Getty Images

“Dit hang maar van speler tot speler af, maar dit behoort nie ’n groot aanpassing vir die twee spelers te wees nie. Wat belangrik is om te onthou, is dat dit professionele rugbyspelers is wat eers 15-man gespeel het, toe na sewes geskuif het en nou terug 15-man toe beweeg,” sê hy.

“Hulle sal fisiek daarvoor opgewasse wees. Daar sal egter tegniese en taktiese aanpassings wees wat hulle moet maak.”

Hendricks meen voorbereiding sal van kardinale belang wees, veral omdat Smith en Senatla later by hul spanne gaan aansluit.

“ ’n Speler soos Kwagga, wat ’n flank is, sal in alle waarskynlikheid fiksser as sy medevoorspelers wees. Die sleutel is egter om die fiksheid te verleng sodat hy 80 minute kan speel en nog steeds fisiek genoeg by die skrums en afbreekpunte kan wees.

“Ironies genoeg kan die kontak in 15-man-rugby minder intens as in sewes wees. Kwagga sal in die langer weergawe meer duikslae om die kante van die losskrums maak, terwyl hy in sewes meer een-tot-een-verdediging oor ’n groter ruimte moet doen.”

Volgens Hendricks sal daar ’n wetenskaplike benadering moet wees om die spelers se oorskakeling te monitor.

“Baie mense dink ’n speler moet man-up om 15-man in plaas van sewes te speel, maar dis dikwels andersom.”

Meer oor:  Sewesrugby  |  Seabelo Senatla  |  Kaapstad  |  Fiksheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.