Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke werf Leeus se Hacjivah

Die breker-losvoorspelers van die Leeus, Kwagga Smith en Hacjivah Dayimani, is hoog op die Springbok-sewesspan se wenslysie met die oog op volgende jaar se Olimpiese Spele in Tokio.

Rapport verneem die Blitsbokke het reeds kontrakte aan Smith en Dayimani aangebied en dat daar groot opgewondenheid heers oor hul koms.

Smith, wat die afgelope paar seisoene groot indruk by die Leeus gemaak het, het ’n groot leemte gelaat toe hy ná die Olimpiese Spele in Rio die Blitsbokke gegroet het om vyftienmanrugby te speel.

Dayimani is die groot verrassing onder Neil Powell, Blitsbok-afrigter, se groep vir aanstaande seisoen.

Die SA sewesspan sal met die oog op volgende jaar se Spele in Tokio sowat vyf tot ses spelers van die vyftienmankode betrek met óf volle kontrakte óf leenooreenkomste met hul provinsiale unies.

Dit sal egter spelers wees wat al in die stelsel gespeel het, behalwe vir Dayimani.

Die Bulle se Rosko Specman en Dylan Sage en die Stormers se Ruhan Nel en Seabelo Senatla is straks van die ander name wat hulself weer vir die Blitse beskikbaar gaan stel. Senatla moet nog besluit of hy voltyds met die span gaan teken of nie.

Hacjivah Dayimani
620: Die Leeu-agtsteman Hacjivah Dayimani het in verlede jaar se Curriebeker-reeks met 620 m meer veld gewen as enige ander speler – ’n uitsonderlike prestasie vir ’n voorspeler. Die vleuel Courtnall Skosan was tweede met 532 m.

Dayimani sal moontlik reeds in September sy eerste proesel sewesrugby op nasionale vlak kry met Powell-hulle wat gretig is om hom in te span wanneer die Blitsbokke aan die Oktoberfest-sewestoernooi in Duitsland gaan deelneem. Hulle wil hom so vinnig as moontlik gewoond kry aan die sewes-opset.

In die verlede was daar verskeie vyftienmanspelers wat net nie by sewes kon aanpas nie, maar die veelsydige Dayimani is iemand wat al geruime tyd die oog in die Blitsbok-kamp getref het.

Omdat hy veelsydig is, sal Powell-hulle hom onder die voor- en agterspelers kan kies, afhangend van hoe vinnig hy by die span aanpas.

Werner Kok het vanjaar so ’n rol vertolk vir die Blitsbokke waar hy op senter ingespan is en ook die fort onder die voorspelers moes hou toe spelers soos JC Pretorius en Philip Snyman beseer was.

Smith sal as voorspeler weer vir die Blitse kom diens doen en kan vir die hele seisoen of slegs ’n gedeelte daarvan vir die span beskikbaar wees. Afhangend van of hy volgende seisoen in die Springbok-prentjie is, kan die breker slegs vir vier toernooie beskikbaar wees.

Hy het verlede jaar ’n blitskontrak in Japan geteken met Yamaha Jubilo, en as hy vanjaar weer dié roete volg, sal hy slegs vir ’n gedeelte van die sewesseisoen beskikbaar wees. Die Blitse is egter gretig om hom vir ’n groot deel van die seisoen te betrek.

  • Die Blitsbokke sal dalk vir ’n deel van die seisoen sonder Kok moet klaarkom. Hy onderhandel tans met die Franse span Toulouse, berig Brenden Nel.

Kok sal hom ná die Curriebeker-reeks as ’n plaasvervangerspeler by die klub aansluit en homself tot ná die Wêreldbeker beskikbaar stel om in te staan vir spelers wat Toulouse aan hul nasionale span afgestaan het.

Kok wou reeds verlede jaar ’n soortgelyke ooreenkoms met Toulouse beklink, maar is deur sy Saru-kontrak gekeer om dit te doen. Dié keer sal hy die goedkeuring van die span dra en kan die openingstoernooie van die reeks in Dubai en Kaapstad wel mis voordat hy na die span toe terugkeer. Oor die duur van sy kontrak by Toulouse, word nog onderhandel.

“Dit is nie dat hy vir ons verlore is nie, hy is beslis nog deel van ons planne tot ná die Olimpiese spele, maar dit kan wees dat hy ’n gedeelte van die seisoen vir ons mis,” het Powell gesê.

Meer oor:  Leeus  |  Olimpiese Spele  |  Kwagga Smith  |  Hacjivah Dayimani  |  Tokio  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.