Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitsbokke word ‘kopfiks’ gemaak

Die Blitsbokke se teleurstellende vertoning die afgelope naweek in Nieu-Seeland sal veral vir die jonger spelers in die groep, wat nog nie geleer het om emosionele terugslae goed te verwerk nie, ’n uitdaging wees.

Die Blitsbokke word deur ’n sportsielkundige geleer om op te staan wanneer hulle gestruikel het. Hier verloor Suid-Afrika se Zain Davids sy balans die afgelope naweek in die groepwedstryd teen Kenia. Foto: Getty Images

Dít is die mening van die sportsielkundige dr. Jannie Botha, wat die nasionale sewesrugbyspan reeds amper twee dekades lank bystaan.

Suid-Afrika moes Sondag by die Hamilton-sewestoernooi in Nieu-Seeland met die tiende plek tevrede wees. Om sake te vererger, kon hy ook nie vir die uitspeelrondes kwalifiseer nie.

Dit nadat die Blitsbokke voor die derde toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks saam met die Kiwi’s die voorloper op die algehele puntelys was.

“Ja, die kompetisie het verander (slegs die boonste span in elke groep dring deur). Ek dink toe hulle teen Engeland (in ’n groepwedstryd) verloor het, het die wiele effens afgekom en het die spelers gewonder wat is daar om voor te speel,” sê Botha, wat ook die Bulle met hul kopfiksheid bystaan.

Hy het die eerste keer in 2001 by die nasionale sewesspan betrokke geraak toe die destydse afrigter, wyle Chester Williams, hom betrek het.

Deesdae is Botha nie meer voltyds by die span betrokke nie, maar hy en die afrigter, Neil Powell, is gereeld telefonies in kontak as die Blitsbokke oorsee in aksie is.

Dr. Jannie Botha is al amper 20 jaar as sportsielkundige by die Suid-Afrikaanse sewesspan betrokke. Foto: Gallo Images

Een van die dinge wat hy doen, is om die spelers te leer om selfsorg toe te pas as dinge skeefloop – soos die afgelope naweek.

“Ek leer hulle kos gee, maar hulle moet leer om self te eet. Die ouer spelers kry dit makliker reg, maar die jonges sukkel bietjie daarmee.

“Ons is nie daarop uit om ’n vinnige oplossing vir ’n probleem te vind nie, maar beplan eerder vir die lang termyn,” sê Botha.

Daar is sterk mededinging vir ’n plek in die span, en boonop word die Olimpiese Spele ook later vanjaar in Tokio beslis. Dit is menige sportman en -vrou se droom om hul land daar te verteenwoordig.

“Die Olimpiese Spele word ook vanjaar beslis en daar is met elke toernooi ’n klomp skuiwe om spelers die geleentheid te gee om ’n plek oop te speel (vir Tokio).

“Al die spelers veg dus vir ’n plek, veral die jonger spelers. Sodra dinge egter verkeerd loop, raak spelers individualisties en vergeet omtrent van die span.

“Die fokus die komende week is om as ’n span te funksioneer,” sê Botha.

Boonop kan iets soos sosiale media ’n genadelose platform wees waar spelers soos die Blitsbokke kan deurloop ná ’n paar slegte vertonings soos die afgelope naweek.

“Ons probeer om hulle nie te veel daaraan bloot te stel nie. Dit kan hulle denke maklik negatief beïnvloed,” sê Botha.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Sewes  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.