Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse erken dit was swak poging
Die Keniaan Geoffrey Okwach hardloop die afgelope naweek weg vir Muller du Plessis (links), Werner Kok (agter) en Stedman Gans. Foto: Mike Lee vir Wêreldrugby

Die spelers en bestuur van die Blitsbokke neem “volle verantwoordelikheid” vir die span se vrotsige vertonings die afgelope naweek in die Hamilton-sewestoernooi in Nieu-Seeland.

So sê Neil Powell, afrigter van die nasionale span, nadat Suid-Afrika met die tiende plek in die toernooi tevrede moes wees.

Die Blitsbokke kon nie vir die halfeind kwalifiseer nie, nadat hy teen Engeland (19-21) verloor het. Boonop het Kenia hulle Sondag met 36-14 afgeransel. In die uitspeelwedstryd om die negende plek was Fidji met 12-5 baas.

Waar Suid-Afrika voor die aanvang van die toernooi saam met Nieu-Seeland in die gesamentlike eerste plek in Wêreldrugby se sewesreeks was, het dinge so ’n bietjie verander.

Die Kiwi’s, wat die toernooi gewen het, is steeds in die eerste plek, maar Suid-Afrika is ’n volle 15 punte agter hulle in die tweede plek.

Ja, dit was nie ’n baie goeie toernooi vir ons nie, maar daar is ’n paar positiewe aspekte uit die laaste wedstryd.
Neil Powell

“Ja, dit was nie ’n baie goeie toernooi vir ons nie, maar daar is ’n paar positiewe aspekte uit die laaste wedstryd. Ek dink dit was die boodskap vir die ouens (voor die laaste wedstryd teen Fidji): Kom ons gaan kry ’n bietjie momentum en doen wat ons wil doen, en beheer die wedstryd,” sê Powell.

“Vir ’n lang tyd het ons dit gedoen. Ons skep geleenthede, maar kan dan nie drieë gaan druk nie. Dit was die hele naweek die geval.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke. Foto: Gallo Images

“Soos teen Kenia het ons lynbreuke gemaak, maar dan nie gaan druk nie. Ons sal baie hard met onsself moet praat, maar ons neem volle verantwoordelikheid vir ons vertoning,” sê hy.

Teen Engeland was Suid-Afrika, wat vroeg met 14-0 voorgeloop het, vrotsig op die verdediging en het ook by die afbreekpunte tweede gekom.

Die Blitsbokke het fisiek tweede gekom teen die Keniane en boonop ’n lustelose vertoning opgedis. So asof hulle nie daar wou wees nie.

In die uitspeelwedstryd teen Fidji het Suid-Afrika aanvanklik goed vertoon en was daar ’n dringendheid te bespeur. Maar slegte verdediging teen die einde en foute by lynstane het die Fidjiane laat seëvier.

Powell erken daardie nederlaag teen Fidji het straks letsels gelos, maar voel tog daar was positiewe aspekte.

“Ons sal beslis na ons vertoning kyk, maar ook hoe ons sielkundig ’n bietjie sterker kan wees om sulke situasies te hanteer.

Ons sal beslis na ons vertoning kyk, maar ook hoe ons sielkundig ’n bietjie sterker kan wees om sulke situasies te hanteer.
Neil Powell

“Ons kan net bou op veral ons laaste wedstryd teen Fidji. Dit gaan belangrik wees dat ons dit agter ons sit. Dit was moeilik en nie wat ons wou hê nie.

“Die ouens gaan ’n bietjie negatief wees en ons gaan Maandag en Dinsdag hard met mekaar praat,” sê Powell.

Die Blitsbokke vertrek Maandag na Australië waar die Sydney-toernooi Saterdag begin.

Meer oor:  Neil Powell  |  Suid-Afrika  |  Hamilton  |  Sewesrugby  |  Wereldreeks  |  Blitsbokke  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.