Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse ‘ook nie bestand’ teen verliese

Enige span wat soos die Suid-Afrikaanse sewesspan meer as ’n handvol spelers kwyt is, gaan sukkel, sê die oud-Blitsbok Stephan Dippenaar.

Stephan Dippenaar toe hy nog vir die Blitsbokke uitgedraf het. Foto: Gallo Images

Dié 30-jarige boorling van Moorreesburg in die Wes-Kaap is gepols oor die Blitsbokke se middelmatige vertoning die afgelope naweek in Dubai op die eerste toernooi van die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks.

“As Engeland sê nou maar sewe ouens moet verloor, sal hulle ook sukkel. Australië begin nou maar eers weer wen, nadat hulle ook verlede seisoen weer moes begin span bou.

“Nieu-Seeland het omtrent nooit verloor nie (12 titels in die eerste 15 seisoene van die reeks), maar hulle het ook gesukkel toe hulle in die laaste vier seisoene spelers (soos DJ Forbes) verloor het. Hulle begin nou weer op die wenpad te kom,” sê Dippenaar, wat die Blitsbokke in 31 toernooie verteenwoordig het.

Die lys van spelers wat die laaste paar seisoene staatmakers vir die Blitsbokke was en deesdae op vyftienman-rugby fokus, sal enige sewesafrigter grys hare besorg. Spelers van gehalte soos Kwagga Smith, Seabelo Senatla, Ruhan Nel, Dylan Sage, Tim Agaba en binnekort Rosko Specman word nie agter elke bos uitgekrap nie.

“Almal het hul opinies, maar sewes is moeilik. Een hop van die bal kan jou ’n wedstryd laat verloor. Daar is goeie spelers (by die Blitsbokke), maar jy moet ook die fyner kunsies van die spel leer. Die ouens sal mekaar egter nog vind,” sê Dippenaar.

Hy is van mening dat daar nie meer ’n span is wat die etiket van gunsteling om sy nek kan hang nie.

Volgens Stephan Dippenaar sal enige sewesspan ter wêreld sukkel om die verlies van spelers van Kwagga Smith en Seabelo Senatla se kaliber te verwerk. Foto: Gallo Images

“Sewes het baie verander, tot Spanje kan jou deesdae klop. In 2007 is sommige spanne met ’n punteverskil van 60 punte geklop, maar dit is nie meer iets wat deesdae gebeur nie.

“Daar is lankal nie meer iets soos ’n maklike wedstryd nie, en as jy nie opdaag nie, gaan jy slae kry,” sê Dippenaar.

Hy sonder die ervare Justin Geduld, wat ’n besering in Dubai opgedoen het, uit as iemand wat ’n wedstryd vir die Blitsbokke kan wen.

“Justin lees ’n wedstryd goed, en as hy die dag op dreef is, neem hy goeie besluite. Ek is ook beïndruk met Selvyn (Davids) se spoed, terwyl Zain (Davids) en Impi (Visser) goed gaan wees, maar hulle kort nog ervaring.

“Daar is ’n ou in die akademiespan, JC (Pretorius), ek dink hy gaan seker die volgende Kwagga (Smith) wees. Hy is baie goed en het ’n enjintjie en speel dieselfde tipe wedstryd as Kwagga of Werries (Werner Kok). Daar is nie einde aan hom nie,” sê Dippenaar.

Hy lag op die vraag of hy nie wens hy het steeds vir die Blitsbokke uitgedraf nie.

“Ek mis dit nie regtig nie, ek het intussen met ’n gesin begin. Toe ek besluit het ek is klaar, veral met die fiksheidsoefeninge, was ek klaar,” sê Dippenaar.

En hoewel hy nie die naweek op die paviljoen in die Kaapstad-stadion gaan wees nie, “ondersteun ek steeds die manne en hou duim vas”.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke  |  Kaapstad-Sewes  |  Stephan Dippenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.