SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse sal Bokke se oorwinning ‘voel’

Die Springbokke se oorwinning in die Wêreldbeker-toernooi sal ’n invloed op die Blitsbokke hê wanneer Wêreldrugby se sewesreeks Donderdag in Dubai begin.

Dit is die mening van die sportsielkundige Henning Gericke.

Neil Powell verlede week tydens ’n oefensessie van die Blitsbokke in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Vir die Suid-Afrikaanse sewespan is daar meer op die spel as bloot die titel in Dubai of om in Mei as die reekskampioen gekroon te word.

Selfs meer as om die goue medalje by die Olimpiese Spele later in 2020 te wen.

Want die Bokke se glorie in Japan het die reeds honger rugbypubliek ’n groter aptyt vir nog sukses gegee.

Boonop word die Kaapstad-sewestoernooi die naweek net ná die een in die Verenigde Arabiese Emirate beslis, met die Blitsbokke wat dan voor hul tuisskare in aksie sal wees.

“Dit (die WB-kroon) sal beslis ’n invloed hê. Daar is ’n positiewe gevoel in die land. Neil (Powell, afrigter van die Blitsbokke) is egter lank genoeg in die tuig om nie ekstra druk op sy spelers te plaas nie.

“Daar is verwagtinge en dit sal interessant wees om te sien hoe hulle (die Blitsbokke) dit hanteer. Hoewel 15-man-rugby en sewes baie verskil, sal die twee tog by mekaar kan leer,” sê Gericke.

Die sportsielkundige Henning Gericke. Foto: Gallo Images

Gericke het tevore spanne soos die Springbokke, die Stormers en die Suid-Afrikaanse krieketspan bygestaan en sê dit sal belangrik wees dat die Blitsbokke op ’n hoë noot begin.

“Iets wat die Blitsbokke uit die Bokke se boek kan neem is die ‘hoekom’. Daardie hoekom het die Springbokke gemotiveer. Ek is seker Neil sou gaan delf het om te kyk wat die rede is hoekom sy span daar is.

“Hulle wil beslis nou wen om die dinamika te vestig. Hierdie toernooi (in Dubai) is deel van die proses om die Cheslin Kolbe’s en die Pieter-Steph du Toit’s (figuurlik gesproke) by die Blitsbokke te identifiseer en die span sal sy beste peil by die Spele wil bereik.

“Ek het al gesien dat die Blitsbokke op hul beste is as hulle goed begin. Hulle moet reeds in vierde rat wees wanneer hulle teen Engeland (in die groepwedstryde) te staan kom,” sê Gericke.

Hoewel wenkbroue verlede week gelig het oor Powell se besluit om die strydrosse Werner Kok en Cecil Afrika, wat albei tevore Wêreldrugby se Sewesspeler van die Jaar was, uit die groep te laat, sê dié kopdokter dit wys dat niemand verseker is van sy plek in die span nie.

“Ek beskou Werner as ’n vegter, maar hy kan nie net in die span instap nie. Een van Neil se eerste uitdagings deur die seisoen sal wees om te bepaal wie die druk van deelname op die hoogste vlak kan hanteer,” sê Gericke.

Meer oor:  Sewes  |  Neil Powell  |  Henning Gericke  |  Blitsbokke  |  Doebai-Sewestoernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.