Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse se gesukkel ‘nie breier se skuld’

Dit help nie om die Blitsbok-afrigter, Neil Powell, se “keel te wil afsny” oor die span se vertonings nie, sê Frankie Horne, voormalige Suid-Afrikaanse sewesspeler.

Zain Davids gaan hom weer by die Blitsbokke aansluit. Foto: Gallo Images

Dít nadat die Blitsbokke die afgelope naweek by die sewestoernooi in Las Vegas in die kwarteindronde teen die uiteindelike kampioen, Amerika, vasgeval het.

“Dit is nie die afrigter se skuld nie. Dis ook nie asof die span nie probeer het nie, daar was tye dat die Blitsbokke baie goed gespeel het.

“Ons moet nuwe ouens inbring, en ja, daar is dalk ’n bietjie te lank daarmee gewag. Maar ’n mens leer net as dit moeilik gaan,” sê Horne, wat in 68 toernooie vir die Blitsbokke gespeel en die span ook aangevoer het.

Suid-Afrika het so byna sy halfeindstryd teen Fidji om die vyfde plek gewen, maar klein foutjies op kritieke tye het die span gekos.

“Ons het geleenthede gehad om die wedstryd te beklink en dit was nie ’n baie skerp en kliniese Fidji nie. ’n Mens soek nie verskonings nie, maar dit is ’n klomp jong spelers en ons moet nou bou vir die volgende drie jaar,” sê Horne.

Hy erken die span se vertoningslys dié seisoen moet ’n kopseer vir die kaptein, Philip Snyman, wees.

“Dit is moeilik, so ’n situasie sal ’n groot tol op Philip eis. In ’n gevestigde span weet elke speler wat van hom vereis word.

“Philip is egter al deur moeilike tye met die span, nadat dit die afgelope twee jaar baie goed met hom en die span gegaan het,” sê Horne met verwysing na die Blitsbokke se verowering van die Wêreldreeks-titel die afgelope twee seisoene.

Frankie Horne sê die Blitsbokke se vertonings is nie die afrigter, Neil Powell, se skuld nie. Foto: Gallo Images

Om alles te kroon bevind die Blitsbokke hulle by die halfpadmerk van die seisoen in slegs die vyfde plek op die algehele puntelys. Siende dat slegs die voorste vier spanne outomaties vir die Olimpiese Spele in 2020 kwalifiseer, plaas dit verdere druk op die Blitsbokke. Sukses in ’n kwalifiseringstoernooi is nie ’n gegewe nie, soos die gelykop uitslag teen die onbesonge Chili die afgelope naweek in die VSA gewys het.

Asof dit nie erg genoeg is nie, het die beseringspook ook ’n draai in die kamp gemaak aan die vooraand van die volgende toernooi, wat die naweek in Vancouver, Kanada, gehou word. Ryan Oosthuizen het ’n enkel- en Mfundo Ndhlovu ’n polsbesering opgedoen en sal gevolglik nie in Kanada in aksie wees nie.

Zain Davids, wat sy plek in die span verloor het ná verlede maand se toernooi in Sydney, en Kurt-Lee Arendse gaan hulle in die beseerde spelers se plek by die span aansluit. Arendse het nog nie sy debuut vir die Blitsbokke gemaak nie en het vanjaar vir die Universiteit van Wes-Kaapland in die Varsitybeker-reeks uitgedraf.

Daar sal Vrydag besluit word hoe die groep van 12 daaruit sal sien en wie die plaasvervanger sal wees.

Die Blitsbokke bevind hulle saam met Amerika, Chili en Wallis in Groep A.

* Die ander groepe is:

B –Samoa, Fidji, Kenia en Kanada.

C – Nieu-Seeland, Australië, Spanje en Frankryk.

D – Argentinië, Engeland, Skotland en Japan.

Geen Suid-Afrikaner kon die Droomspan van die toernooi in Las Vegas haal nie.

* Blitsbok-groep vir Vancouver: Zain Davids, Philip Snyman (k), Impi Visser, Sako Makata, Werner Kok, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Justin Geduld, Stedman Gans, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis en Kurt-Lee Arendse.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.