Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitse se ‘Shakes’ vier 27ste in styl
Een vir almal, en almal vir een. Die Blitsbokke die afgelope naweek in Doebai. Foto: Melissa Lear

By baie mense is daar die begeerte om ’n nuwe vuurwa of so iets vir hul verjaarsdag te kry, maar die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, het Saterdag straks dié beste verjaarsdaggeskenk gekry.

Dié boorling van Mthatha in die Oos-Kaap het Suid-Afrika se sewesspan op sy 27ste verjaarsdag na die titel by die Doebai-sewestoernooi gelei.

Om boonop met Suid-Afrika se grootste aartsvyand op die rugbyveld, Nieu-Seeland, in die eindstryd af te reken, is beslis nie te versmaai nie.

Siviwe Soyizwapi (links) en Seabelo Senatla deel ’n oomblik kort nadat die eindfluitjie Saterdag in die eindstryd by die Doebai-sewestoernooi geblaas het. Foto: Getty Images

“Ek het net gister (Vrydag) aan my kamermaat, Ruhan (Nel), gesê hoe wonderlik dit sal wees om die toernooi op my verjaarsdag te wen,” het Soyizwapi, of Shakes soos hy alom bekend staan, ná die Blitsbokke se sege met 15-0 oor die Kiwi’s in die eindstryd gesê.

“En nou het ons dit reggekry. Sedert die eindfluitjie geblaas het, is ek omtrent sonder woorde – as gevolg van die vertoning wat die ouens gelewer het.”

En watter vertoning was dit nie. Die Blitsbokke het genadeloos onder die Kiwi’s ingeklim en hulle geduik dat hy sekerlik huis toe verlang het. En wanneer Suid-Afrika balbesit gehad het, het spelers soos Rosko Specman – meestal met ’n breë glimlag op sy gesig – kringe om Suid-Afrika se teenstanders gehardloop.

By Soyizwapi is daar geen twyfel hoekom die Blitsbokke koning gekraai het in die Woestynstad nie.

“Ons het aanhoudend verbeter. Elke wedstryd het ons beter en beter geword en daarin geslaag om te speel soos wat ons wou.”

Die Blitsbokke arriveer Sondag in Kaapstad en sal Maandag hul voorbereiding hervat vir die tweede been van Wêreldrugby se sewesreeks wat Vrydag in die Moederstad begin.

“Ons speel voor ons tuisskare en gesinne, so dit gaan ’n belangrike week wees. Dit gaan belangrik wees dat ons voor begin Maandag soos wat ons opbou vir die naweek,” sê Soyizwapi.

Vreugde is om koning te kraai in Doebai. Die Blitsbokke nadat hulle Saterdag as kampioen in die Woestynstad gekroon is. Foto: Getty Images

Ná hul goeie vertoning in Doebai, sal die Blitsbokke beslis ’n spreekwoordelike teiken op hul rûe hê, maar daardie oorwinning sal die span van broodnodige selfvertroue voorsien.

* Suid-Afrika se oorwinning het ook nie ongesiens by die baadjiedraers in die parlement verbygegaan nie, met die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur wat die span in ’n verklaring gelukgewens het.

* Hoewel alle kaartjies vir Sondag vir die Kaapstad-toernooi uitverkoop is, is daar nog beskikbaar vir Vrydag en Saterdag.

Die Blitsbokke maak ’n kringetjie nadat hul Saterdag met Samoa in die halfeind in Doebai afgereken het. Foto: Mike Lee/World Rugby

Meer oor:  Siviwe Soyizwapi  |  Sewes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.