Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
BLM-beweging kry vastrapplek in rugby

Suid-Afrikaanse krieket se vurige Black Lives Matter- (BLM) debat het nou ook na rugby toe uitgekring.

Peter de Villiers, die voormalige Springbok-afrigter. Foto: Getty Images

’n Groep van 49 gekleurde afrigters, oud-spelers en administrateurs, onder wie die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers, oud-Blitsbok-breier Paul Treu en voormalige Bok-vleuel Ashwin Willemse, het Woensdag ’n verklaring uitgereik waarin hulle ’n pleidooi lewer vir gelyke geleenthede op senior- en bestuursvlak in rugby. Hulle staan ook bankvas agter die Protea-snelbouler Lungi Ngidi, wat vroeër vandeesmaand sy ondersteuning aan BLM toegesê het. Ngidi het ook gesê dat hy sal seker maak dat die kwessie in spanverband aandag kry.

Die groep rugbyafrigters en oud-spelers kap na rugbyadministrateurs se “stilswye” oor die kwessie.

“Al het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie groot vordering gemaak om seker te maak dat nasionale spanne verteenwoordigend is, bly die deur geslote vir posisies van hoofafrigters en senior administrateurs,” lui die verklaring.

“Die meeste rugbyunies sal vinnig met getalle vorendag kom om te staaf dat swart afrigters en administrateurs goed op alle vlakke verteenwoordig is, maar dis op senior en strategiese vlak waar poste steeds (vir witmense) gereserveer word.

“Swart afrigters, administrateurs en diensverskaffers word steeds uitgesluit uit posisies vir hoofafrigters, direkteure van rugby, hoë-prestasiebestuurders, uitvoerende hoofde, en waar kundigheid benodig word.”

Die voormalige Blitsbok-afrigter Paul Treu. Foto: Gallo Images

Die groepering staaf sy punt as volg:

• Daar is geen swart hoofafrigters by die Springbokke, die SA o.20-span, Pro14-spanne, Superrugby-spanne of spanne in die Curriebeker-reeks se Premierliga nie.

• Daar is nie swart uitvoerende hoofde nie.

• Daar is nie swart hoë-prestasiebestuurders nie.

“Dikwels word gevra ‘waarom het julle nie uitgepraat toe julle spelers was, en selfs nou as afrigters of oud-spelers nie’.

Die antwoord is doodeenvoudig: Diegene met die moed om uit te praat, word gemarginaliseer en gedwing om werk buite rugby of sport te soek.

“Ons kan nie meer in vrees lewe nie en die stemme binne ons gaan nie meer stilgemaak word nie. Sedert die dae van kolonialisme tot in apartheid was daar ononderbroke ‘wit’ beheer van top afrigtings- en administratiewe poste. Daardie ongelykheid en viktimisering van kritiese stemme moet stopgesit word.”

Daar word ook gesê dat daar in die maand waarin oud-pres. Nelson Mandela se lewe gevier word, ’n hernieude toewyding moet wees tot die beginsels wat hy nagestreef het, die beëindiging van ongelykheid in sport en teenkanting teen rassisme.

“As voormalige spelers en afrigters in Suid-Afrika, staan ons in solidariteit met Lungi Ngidi, die BLM-beweging, en pleidooie vir gelykheid in rugby.”

• Diegene wat die verklaring onderteken het is: Mac Masina, John Williams, Ashwin Willemse, Adrian Jacobs, Wayne Julies, Vuyo Zangqa, Peter de Villiers, Thando Manana, Labeeb Levy, Jonathan Mokuena, Paul Treu, David Manuel, Hilton Lobberts, Danwel Demas, Gary Boshoff, Deon Carelse, Nirven Arendse, Norman Jordaan, Eddie Fredericks, Johan Mettler, Wilbur Kraak, Anvor Schooney, Aschin Klein, Bronson Weir, Reginald Nutt, Chumani Booi, JP Kellerman, Jearus Nicholas, Carlos Katywa, Saaid Blake, Darryl Coeries, David Hendricks, Sino Ganto, Brendal Brandt, Sammy Horne, John Booysen, Travor Pieterse, Wylie Seroot, Tiger Mangweni, Denzil Frans, Neil Papier, Jerome Pietersen, Nazeem Adams, Warren Petersen, David Maidza, Therlow Pietersen, Kaya Malotana, Kabamba Floors, Chris October.

Meer oor:  Ashwin Willemse  |  Paul Treu  |  Black Lives Matter  |  Peter De Villiers  |  Lungi Ngidi  |  Blm  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.