Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bloemfontein wink vir Matt Proudfoot

Die Springbok-hulpafrigter Matt Proudfoot se naam kan op die Cheetahs se kortlys vir ’n nuwe hoofafrigter aangebring word indien sy kontrak met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ná vanjaar se Wêreldbekertoernooi nie verleng word nie.

Matt Proudfoot Foto: Getty

Proudfoot se kontrak van vier jaar as een van die Bokke se hulpafrigters verstryk later vanjaar ná die Wêreldbeker. Die aanduidings is dat Proudfoot en sy werkgewer binne die volgende weke sal ontmoet om oor sy toekoms te besin.

Die uitkoms van die vergadering, wat volgens Rapport se inligting al volgende week kan plaasvind, sal bepalend wees oor of Proudfoot se naam in die hoed as opvolger vir Franco Smith as hoofafrigter van die Cheetahs gegooi word.

Die Cheetahs het met behulp van die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, in sy hoedanigheid as Saru se direkteur van rugby reeds met die amptelike proses begin om ’n opvolger vir Smith te vind. As deel van die proses kan Smith se pos ook geadverteer word.

Deon Davids en Hawies Fourie is op die oomblik die twee name wat genoem word as kandidate. Albei is nog deur onderskeidelik die Southern Kings en die Maties gekontrakteer, wat onderhandelinge met hulle vloeibaar maak.

Jonathan Mokuena, voormalige afrigter van die Pukke, se naam is ook in die hoed.

Die 47-jarige Proudfoot is reeds van 2016 af een van die Bokke se hulpafrigters. Voor dit was hy by die Kobelco Steelers in Japan ’n hulpafrigter, asook by die Westelike Provinsie en die Stormers. Die Pukke het ook onder sy afrigting in 2008 die nasionale klubkampioenskap gewen.

Proudfoot kry volgens Rapport se inligting ook aanbiedinge van verskeie oorsese spanne op verskillende vlakke, maar hy beskou die Bokke en Suid-Afrikaanse rugby as ’n prioriteit.

Smith sal Italië reeds in volgende jaar se Sesnasiesreeks afrig. Hy is wel nog bereid en beskikbaar om die Cheetahs in die Curriebeker af rig, sou die Vrystaters hom benodig.

Die Cheetahs is verder ook nog op soek na plaasvervangers vir Daan Human as skrumafrigter en Dave Williams as aanvallende afrigter. Hulle het onlangs by onderskeidelik die Bulle en Haaie ingeskakel.

Die verwagting is dat die Cheetahs volgende week ’n aankondiging oor hul prosesse sal maak om ’n opvolger vir Smith te vind. Hulle sal dan ook meer inligting oor Saru se nuwe kontrakstelsel kan gee, waarby hulle grootliks baat sal vind.

Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Bokke  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Springbokke  |  Franco Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.