Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blomme saam met ‘broer’ na Scarlets

Die Cheetahs se heelagter Clayton Blommetjies en sy spanmaat die Springbok-agtsteman Uzair Cassiem kom al van Junior Springbok-dae saam en nou gaan hulle ook saam vir die Walliese span Scarlets in die Pro14-reeks speel.

Clayton Blommetjies van die Cheetahs vorm sy kenmerkende hart met die hande in die Cheetahs se afgelope oorsese Pro14-wedstryd teen die Dragons in Newport, Wallis, verlede maand.Foto: Gallo Images

Ná heelwat bespiegeling het die Scarlets die nuus Saterdag amptelik op hul webtuiste bekend gemaak.

“Ek kan bevestig dat ek vir twee jaar by hulle ’n kontrak geteken het. Ek sluit in Julie vanjaar by hulle aan,” sê die 27-jarige Blommetjies vanuit sy ouerhuis in Paarl, waar hy en sy familie die Paasnaweek deurbring.

Hy sê hy en die Cassiem-gesin sien saam uit na die nuwe hoofstuk van hul rugbyloopbane in Llanelli, Wallis.

“Ons is ons twee kinders van die Wes-Kaap (hy van die Paarl en Cassiem van die Strand) en nou sal ons saam in Llanelli ons rugby speel, net soos die geval in Bloemfontein was.

“Ons het mekaar oral in Bloemfontein raakgeloop en ons het huisvriende geword, broers.”

Blommetjies het sedert sy koms na die Cheetahs in 2014 ’n liefde-haat-verhouding met die Cheetah-ondersteuners gehad, maar daar was die laaste tyd baie meer liefde as haat vir hom danksy sy spel in die Pro14-reeks.

“Daar sal ’n nuwe speler kom wat sal doen wat ek moes doen vir die Cheetahs,” sê Blommetjies.

Hy moes die laaste ruk met min rus speel omdat hy die enigste heelagter by die franchise was.

Hy sê hy is hartseer om sy geliefde Cheetahs te groet.

“Ek gaan veral die leiding van Franco (Smith, nuwe Pro14-afrigter,) mis. Hy het my die vryheid gegee om te speel en hy was die afrigter wat in my geglo het.

Ek gaan veral die leiding van Franco (Smith, nuwe Pro14-afrigter,) mis. Hy het my die vryheid gegee om te speel en hy was die afrigter wat in my geglo het.
Clayton Blommetjies

“Dit was daarom vir my baie hartseer om met hom oor my skuif te gaan praat, maar dit gaan oor my toekoms. Hy en Dave (Williams, agterspelerafrigter) en Rory (Duncan, afrigter) was die mense wat nog altyd agter my gestaan het.

“Ek het by Franco baie van geloof geleer. Ons weet almal hy is ’n man van God en sy woorde ‘Stel die Vader van Bo eerste’, sal my nooit ontgaan nie.”

Hy sê by die Cheetahs het hy baie geleer, nie dat ’n rugbyspeler ooit ophou leer nie.

“Die bykans vier jaar wat ek in Bloemfontein was, het ek baie van familie en broederskap geleer. Hier gee die spelers om vir mekaar; jou spanmaat is jou familie.”

Blommetjies en sy vrou, Yanasha, en dogtertjie, Claynesha, kom Maandag in Bloemfontein aan, maar sal nog een keer die tog Paarl toe onderneem, ná die laaste groepwedstryd teen die Southern Kings in Port Elizabeth, om hul familie te groet.

“My familie was geskok oor die nuus, maar hulle sien saam met ons uit na die toekoms. My vrou het gehuil toe sy die nuus hoor, maar nou glimlag sy.”

My vrou het gehuil toe sy die nuus hoor, maar nou glimlag sy.
Clayton Blommetjies

Blommetjies sê hy dink nie noodwendig daaraan dat sy Cheetah-hoofstuk eindig nie, want hy weet nie wat die toekoms vir hom inhou nie.

As hy na Suid-Afrika terugkeer, sal die Cheetahs die span wees vir wie hy weer sal wil speel.

Meer oor:  Clayton Blommetjies  |  Wallis  |  Bloemfontein  |  Scarlets  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.