Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Dit gaan oor Cheetahs, nie Bulle'

Die Vrystaat-Cheetahs kan met ’n goeie vertoning teen die Bulle Vrydag in Bloemfontein wys die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het die verkeerde besluit geneem om hulle uit die Pro14-rugbyreeks te boender.

Die Cheetahs en die Bulle pak mekaar in die tweede ronde van die Superrugby Unlocked-reeks.

Die Cheetahs sal vol selfvertroue wees ná hulle die Pumas oorrompel het, terwyl die Bulle sal wil vergoed vir hul onoortuigende vertoning teen Griekwas.

Die Cheetahs-heelagter Clayton Blommetjies sal in Vrydag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen Bulle in Bloemfontein ’n groot mylpaal bereik. Foto: Gallo Images

Clayton Blommetjies, wat in sy 100ste wedstryd vir die Cheetahs speel, sê hy gaan nie dat faktore buite sy beheer sy aandag van die wedstryd aflei nie.

“Om eerlik te wees, ons speel nie vir SA Rugby nie, ons speel vir ons ondersteuners. Daardie besluite en keuses is nie ons s’n nie. Ons wil net rugby speel, dis al,” sê Blommetjies.

“Soos almal weet, gaan die unie deur ’n moeilike tyd. In die stadium gaan dit nie oor ander spanne nie, maar oor onsself, ons toekoms. Ons wil elke wedstryd ’n beter vertoning lewer en vir die wêreld wys wie en wat die Cheetahs is.”

Vanuit ’n persoonlike oogpunt is hy egter uit sy vel oor sy 100ste wedstryd, iets wat hy in sy wildste drome nie gedink het sou gebeur nie. Voor hy by die Cheetahs aangesluit het, het hy ook 41 keer vir die Bulle uitgedraf.

“Dis elke speler se droom om ’n mylpaal van 50 en dan 100 wedstryde te behaal. Nooit het ek gedink dat ek 100 wedstryde vir die Cheetahs sou speel nie, maar dis ’n eer vir my.”

En hoe voel hy oor sy tweestryd teen die veteraan-heelagter Gio Aplon?

“Wat kan ek van Gio sê? Ek dink hy was een van die beste heelagters in die land voor hy na Frankryk is en nou is hy terug. Vrydag se wedstryd gaan egter nie net oor Gio nie, daar is nog ander 14 spelers saam met hom op die veld,” sê Blommetjies.

Hy sê daar was nie juis gesprekke oor die Bulle in die Cheetah-kamp in die aanloop tot die wedstryd nie, aangesien hulle weet wat op hulle wag.

Ons wil sterker word, ons wil slimmer word sodat ons al die spanne kan uitoorlê.

Die Bulle se kaptein, die Springbok-agsteman Duane Vermeulen, is terug op sy pos en hy gaan veral sake by die afbreekpunte moeilik maak, om nie te praat van sy stormram-lopies nie.

“Ons weet wat hulle sterk- en swakpunte is en daarom gaan dit belangrik wees dat ons by ons strukture hou. Ons weet hulle kom met gevaarmanne soos Duane, Arno Botha, Trevor Nyakane, Aplon en Morné Steyn hier aan, en daar is nog baie wat ek kan opnoem.

“As ons die paar manne wat ek genoem het, kan neutraliseer, dan het ons ’n goeie kans om die een ook deur te trek.”

Die gewese Cheetah-senter Clinton Swart maak sy buiging vir die Bulle en nog ’n oud-Cheetah, die slot Sintu Manjezi, is op die plaasvervangersbank gekies.

Blommetjies het benadruk dat hulle wil voortbou op hul goeie begin tot plaaslike reeks.

“Ons wil sterker word, ons wil slimmer word sodat ons al die spanne kan uitoorlê. Dit gaan net oor ons, nie die ander span nie.”

Spanne

Vrystaat-Cheetahs: Clayton Blommetjies, Malcolm Jaer, Benhard Janse van Rensburg, Frans Steyn, Rosko Specman, Tian Schoeman, Ruan Pienaar (k), Jasper Wiese, Junior Pokomela, Andisa Ntsila, Walt Steenkamp, Carl Wegner, Luan de Bruin, Reinach Venter, Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Boan Venter, Erich de Jager, JP du Preez, Aidon Davis, Chris Massyn, Tian Meyer, William Small-Smith.

Bulle: Gio Aplon, David Kriel, Cornal Hendricks, Clinton Swart, Jade Stighling, Morné Steyn, Embrose Papier, Duane Vermeulen (k), Arno Botha, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Johan Grobbelaar, Jacques van Rooyen. PLAASVERVANGERS: Joe van Zyl, Gerhard Steenekamp, Mornay Smith, Sintu Manjezi, Nizaam Carr, Ivan van Zyl, Chris Smith, Stedman Gans.

Skeidsregter: Cwengile Jadezweni

Assistent-skeidsregters: Griffin Colby en Ben Crouse

TV-skeidsregter: AJ Jacobs

Afskop: 19:00 op SS Grandstand (201), SS Rugby (211) en GDN

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.