Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blues gee Canes slae in Wellington

Die Blues het Saterdag vier keer agter die doellyn gaan draai om die Hurricanes en Ardie Savea se partytjie deeglik te bederf met ’n 31-16-oorwinning in die Superrugby Aotearoa-reeks in Wellington.

Die Blues se Stephen Perofeta bars deur ’n duikpoging tydens Saterdag se kragmeting teen die Hurricanes in Wellington. Foto: Getty Images

In 2020 het die Hurricanes se stadige begin in hul veldtog hulle later duur te staan gekom en waarskynlik verhoed dat hulle die titel kon verower.

Hulle sou dus in hul voorseisoense voorbereiding groot klem geplaas het daarop om in 2021 aansienlik vinniger uit die blokke te wees.

’n Spesiale mylpaal vir een van hul staatmakers, Ardie Savea, wat Saterdag in sy 100ste wedstryd uitgedraf het, sou beteken dat die span geen ekstra motivering benodig het nie.

Dit was egter die Blues wat met mening opgeruk het om die tuisspan se doppie te klink.

Dinge het vroeg al skeefgeloop vir die Hurricanes.

Die Blues se bielie-vleuel Caleb Clarke het sy span op die voorvoet gekry met ’n kraglopie langs die kantlyn af, maar besit weggegee toe die Hurricanes se Devan Flanders onderskep het.

Die agtsteman het egter ’n swak aangee uitgegee wat op die grond beland het en deur die Blues se kantman Dalton Papalii opgepik is en hy het onder die pale gaan afrond.

Die tuisspan het egter binne ’n minuut nadat spel hervat het teruggeslaan met ’n briljante stukkie spanspel met die haker Asafo Aumua wat met mening deur die teenstanders gebars het om in die hoekie oor te duik.

Twee langafstand-strafdoele deur Jordie Barrett, een van 53 m en een van 43 m, het verseker dat die Hurricanes rustyd ’n 11-7-voorsprong geniet het.

Ná die omdraaislag het die Blues egter sake hervat soos wat hulle in die eerste helfte begin het.

Drieë deur Clarke en Stephen Perofeta het die Hurricanes vroeg in die tweede helfte terug op die agtervoet geplaas met die besoekers wat met 21-11 voorgeloop het.

Aumua se tweede het die Hurricanes weer binne bereik geplaas, maar dit was die Blues wat met al die momentum gespeel het terwyl die span van Wellington se verdediging al hoe meer gapings begin wys het.

Savea, wat van sy voete af was by die afbreekpunt, het die Blues se Otere Black toegelaat om aan te lê pale toe.

Hy het geen fout met sy strafdoel gemaak nie en sy span weer bietjie ruimte gegee op die telbord.

Die druk het verder sy tol geëis toe Barrett en Peter Umaga-Jensen ’n gevaarlike skop nie kon bemeester nie. Die bal het in Rieko Ioane se hande beland, wat 60 m genael het om onaangeraak in die hoek oor te duik, wat geen twyfel oor die uitslag gelaat het nie.

Die Blues sou met dié vertoning vroeg in die reeks ’n waarskuwing uitgestuur het. – Sportredaksie

* Puntemakers:

Hurricanes 16 (11): Drieë: Asafo Aumua (2). Strafdoele: Jordie Barrett (2).

Blues 31 (7): Drieë: Dalton Papalii, Caleb Clarke, Stephen Perofeta, Rieko Ioane. Doelskoppe: Otere Black (4). Strafdoel: Black.

Meer oor:  Ardie Savea  |  Jordie Barrett  |  Caleb Clarke  |  Hurricanes  |  Superrugby Aotearoa  |  Blues
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.