Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blues gestrand ná virusgevalle in Auckland

Die Blues se spelers en ondersteuningspersoneel bevind hulle tans in niemandsland nadat nuwe koronavirus-inperkings in Nieu-Seeland verhinder het dat hulle Saterdag kon terugkeer Auckland toe.

’n Wolk het Saterdag oor die Blues se feesvierings gedaal ná hul sege oor die Hurricanes met die nuus dat hul tuisstad, Auckland, vir die volgende week ingeperk word. Foto: Getty Images

Jacinda Ardern, die premier van Nieu-Seeland, het Saterdag aangekondig dat Auckland van Sondag af vir 7 dae in vlak 3-inperking sal wees. Dit beteken Aucklanders mag hul huise net verlaat vir noodsaaklike inkopies en werk, en alle sportbedrywighede is opgeskort.

Hoewel die Blues die komende naweek ’n loslootjie het, wil hulle nie terugkeer na Auckland nie omdat hulle dan vir ’n week glad nie sal kan oefen nie. Om daardie rede het die span Saterdag, ná hul oorwinning van 31-16 oor die Hurricanes, hulle in ’n Wellington-hotel geïsoleer en begin soek na huisvesting vir die volgende week.

Hulle is ook getoets vir die koronavirus en verwag die uitslae Maandag.

“Ons groep het in die Intercontinental-hotel geïsoleer,” het die Blues se uitvoerende hoof, Andrew Hore, volgens die Nieu-Seelandse webblad Stuff gesê. “Almal het verlede week toetse gehad, maar ons het hulle weer getoets. Hulle moes ook Google-vraelyste invul oor waar hulle of hul families was.

“Ons sal begin soek vir ’n alternatiewe basis en sal weg van Auckland by sodra ons duidelikheid het. In die stadium hoop ons om ’n basis in suid-Waikato te vind, wat ons net vir onsself kan gebruik.

“Jy kan seker te veel voorsorgmaatreëls tref, maar ons het besluit om vir so lank as moontlik in ’n borrel te bly.”

Volgens Hore was die span deurgaans voorbereid daarop dat inperkings ingestel kan word terwyl hulle uitstedig is.

“Ons was heeltyd bedag op die moontlikheid – tot so ’n mate dat elke ou ’n groot gepakte sak in die spanbus het,” het hy gesê.

Die Blues se volgende wedstryd is geskeduleer vir 14 Maart, teen die Highlanders op Eden Park in Auckland. Dit is moontlik dat die stad teen daardie tyd terug op vlak 1-inperkings kan wees, maar Hore sê hulle berei voor vir die slegste scenario.

Die res van Nieu-Seeland is nou op vlak 2-inperkings, wat sport toelaat, maar sonder toeskouers.

Die Chiefs en Highlanders sal dus Vrydag in Waikato in ’n leë stadion speel, en die Crusaders en Hurricanes sal mekaar Saterdag in Dunedin agter geslote deure die stryd aansê.

Die oorblywende wedstryde in die T20-reeks tussen Nieu-Seeland en Australië se krieketspanne sal ook die komende week sonder toeskouers plaasvind, in Wellington.

Die nuwe inperkings is aangekondig nadat ’n 20-jarige Aucklander Vrydag ’n Covid-19-toets by ’n dokter laat doen het, en van daar af gimnasium toe is. Nadat die toets ’n positiewe uitslag opgelewer het, is die persoon se ma ook positief getoets. – Sportredaksie

Meer oor:  Blues  |  Nieu-Seeland  |  Covid-19  |  Superrugby Aotearoa  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.