Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Boela antwoord op Stonehouse se roepstem

Sy droom om in die Curriebeker-reeks te speel, het Boela Venter die aas wat Jimmy Stonehouse na hom uitgegooi het, met albei hande laat aangryp.

Boela Venter bemeester ’n lynstaanbal in ’n kragmeting in die Varsitybeker-reeks tussen die Noordwes-Universiteit en die Maties in 2017 in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Venter, ’n flank wat ook slot kan speel, het hom Maandag vir ’n proeftydperk by die Pumas, wat deur Stonehouse gebrei word, in Mbombela aangesluit.

Hy was deel van die Shimlas se rugbyspan wat die Varsitybeker-reeks in 2015 gewen het en het ook later vir die Noordwes-Universiteit in dié reeks diens gedoen.

Die 26-jarige Venter, wat 105 kg weeg en 1,93 m in sy sokkies staan, word as ’n moontlike plaasvervanger vir die losvoorspeler Willie Engelbrecht beskou, wat hom onlangs as ’n leenspeler by die Stormers aangesluit het.

Dit is ’n lekker groep spelers, maar die eerste twee dae was taai. Coach Jimmy is baie ernstig by die oefeninge en hy dril ons hard.

Venter het uitgebreide ervaring van deelname in die Curriebeker se Eerste Liga – hy het tussen 2016 en 2019 vir die Griffons, Luiperds en Valke uitgedraf, maar hy droom daarvan om rugby op ’n hoër vlak te speel.

In 2020 het hy vir die span van die Oos-Rand in die Global Rapid-reeks in Australië diens gedoen voordat Covid-19 ’n einde aan die reeks gebring en hy na Suid-Afrika teruggekeer het. Later verlede jaar het hy ’n draai in Frankryk gemaak, maar sedert Oktober was daar ’n skaarste aan geleenthede – totdat Stonehouse op sy knoppie gedruk het.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, beskou Boela Venter as ’n moontlike plaasvervanger vir Willie Engelbrecht wat aan die Stormers geleen word. Foto: Gallo Images

“My agent het met hulle (die Pumas) gepraat toe hy hoor dat Willie na die Stormers gaan. Hulle het toe laat weet hulle hou van my videogrepe. Ek is bly oor die geleentheid omdat ek verkies om in Suid-Afrika te speel,” sê Venter.

“Voordat ek die geleentheid gekry het, was ek ’n bietjie op my senuwees omdat daar niks was nie. My doelwit is nou om hopelik ’n kontrak te kry en dan in die Curriebeker se Premierliga te speel.”

Venter, ’n oudleerling van die Hoërskool Nylstroom, draai nie doekies om oor die intensiteit van die Laevelders se oefensessies nie. Hy hoop om teen die einde van volgende week te weet of hy Stonehouse genoegsaam beïndruk het.

“Dit is ’n lekker groep spelers, maar die eerste twee dae was taai. Coach Jimmy is baie ernstig by die oefeninge en hy dril ons hard,” sê hy.

“Maar die ouens is positief en almal werk hard. Ek moet sê die warm son in Nelspruit maak dinge nie makliker nie.”

• Nog ’n losvoorspeler, Ruan Laubscher, het hom ook vir ’n proeftydperk by die Pumas aangesluit. Hy is in 2019 vereer met die prys as die Westelike Provinsie se Klubspeler van die Jaar. Hy het toe vir Durbanville-Bellville gespeel.

Meer oor:  Pumas  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.