Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Boendoe-hof’ krap nog aan Dalton

Dis nou al byna ’n kwarteeu sedert die voorval, maar sy rooikaart en skorsing in die 1995 Wêreldbeker-toernooi krap steeds aan die voormalige Springbok-haker James Dalton.

Dalton (47), wat vandeesweek weer in die nuus was vir ’n voorval waarin hy na bewering iemand aangerand het, en die Kanadese Rod Snow en Gareth Rees het destyds die trekpas gekry toe ’n bakleiery uitgebreek het in die groepwedstryd tussen Suid-Afrika en Kanada in Port Elizabeth.

James Dalton en Kanada se Rod Snow kry die trekpas vir hul aandeel in ’n vuisgeveg in ’n 1995 Wêreldbeker-wedstryd in Port Elizabeth. Foto: Getty Images

Die Bokke het met 20-0 gewen.

Inderwaarheid was Dalton stief behandel. Hy het eers by die geveg aangesluit nadat hy gesien het hoe Kanada se heelagter, Scott Stewart, vir Pieter Hendriks van agter af aanval. ’n Tugkomitee het Dalton vir 30 dae geskors.

“Dit was ’n algehele boendoe-hof,” het Dalton gesê in ’n onderhoud ter bemarking van sy outobiografie, Bulletproof: The James Dalton Story.

“Daar was twee Franse en een Engelse ou op die paneel. Hulle het ’n tolk gebring. Die Franse ouens kon nie ’n woord Engels praat nie, laat staan nog dit verstaan en ’n enkele vraag stel,” onthou Dalton.

“Hulle het die voorval in stadige aksie gewys, wat ons almal weet nie die ware verhaal sal vertel nie omdat rugby ’n kontaksport is waar alles teen ’n honderd myl per uur gebeur.

“Ek het as ’n derde party ingehardloop, maar niemand geslaan, gebyt, geskop, gespoeg of op die skeidsregter gevloek nie. En ek is afgestuur.”

Dalton meen die rede vir die morsige tugverhoor was dat rugby toe nog as ’n sport “onvolwasse” was. In 1995 was dit nog ’n amateursport.

Ja, dit was eintlik nie ’n drie nie, erken James Dalton oor sy ‘wedstrydwenner’ in 1998 se Drienasiestoets teen die All Blacks in Durban. Foto: Getty Images

“Dit was hartverskeurend, want my plek in die Wêreldbeker-toernooi was daarmee heen. Ek was egter baie geseënd om te kan terugkeer en die voorste haker in Suid-Afrika, asook ter wêreld te word,” sê hy.

“Daar’s seker maar ’n tyd en plek vir alles en daardie was nie my tyd of plek nie! Maar dit het my tog ’n huishoudelike naam gemaak! Baie mense het steeds simpatie met my.”

Dalton erken egter hy het in 1998 met ’n gelukkie weggekom toe die wendrie aan hom toegeken is in Suid-Afrika se Drienasies-wedstryd teen Nieu-Seeland in Durban.

Suid-Afrika was met 5-23 agter, maar het die toets ná ’n ongelooflike terugvegpoging met 24-23 gewen.

Dalton se ‘drie’, nadat hy die bal uit Andrew Aitken se hande uitgepluk het, het vir die oorwinning gesorg.

“Die eerste vraag wat ek altyd by dinees gevra word wanneer ek toesprake lewer, is of ek regtig ’n drie gedruk het. My antwoord is altyd dat dit in die rekordboeke is, maar ek dink ek is dalk net-net voor die doellyn gestuit en as daar ’n TV-skeidsregter was, sou die drie nie toegeken gewees het nie,” skryf hy in sy outobiografie.

Meer oor:  James Dalton  |  Bokke  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.