
Jean Kleyn, wat vir die Ierse klubspan Munster speel, is vir twee weke geskors. Foto: Getty Images
Ierland se Suid-Afrikaans gebore slot Jean Kleyn is vir twee weke weens ontoelaatbare spel geskors.
Kleyn is uitgewys in sy klubspan, Munster, se Pro14-rugbystryd die afgelope naweek teen Leinster in Limerick. Leinster het met 13-10 gewen.
Dié 27-jarige, wat sy toetsbuiging in 2019 vir die Iere gemaak het, is uitgewys nadat hy by ’n losgemaal met ’n teenstander kontak bo die lyn van sy skouers gemaak het.
Kleyn is skuldig bevind, met ’n oortreding van dié aard wat ’n skorsing van vier weke regverdig. Tog is versagtende omstandighede in ag geneem, soos dat Kleyn skuld erken en berou getoon het, asook sy goeie dissiplinêre rekord.
Voordat Kleyn in 2016 Suid-Afrika verlaat het, het hy die Westelike Provinsie en Stormers op plaaslike bodem verteenwoordig. Hy mag weer op 15 Februarie speel. – Sportredaksie