Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbok-afrigter: ‘Dis Nienaber’

Jacques Nienaber gaan moontlik eersdaags as die Springbokke se nuwe hoofafrigter aangestel word ná ’n vergadering vandeesweek van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende raad in Kaapstad.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, het sy toekomsvisie Donderdag aan rugbybase uitgestippel en Netwerk24 het betroubaar verneem dat dit sonder teenstribbeling aanvaar is.

Jacques Nienaber, wat waarskynlik as die nuwe Springbok-afrigter aangestel gaan word, saam met Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Benewens Nienaber se bevordering van verdedigingsafrigter na hoofafrigter, gaan Deon Davids, die voormalige Southern Kings-afrigter, waarskynlik as ’n hulpafrigter aangestel word.

Saru moet egter nog die papierwerk afhandel en dit kan nog ’n rukkie duur voordat die beheerliggaam in ’n posisie is om amptelik aankondigings te doen.

Matt Proudfoot, die Bokke se voorspelerafrigter onder Erasmus die afgelope twee seisoene, se kontrak het verstryk.

Erasmus het Proudfoot by sy voorganger, Allister Coetzee, geërf en wou destyds eintlik die voormalige Franse stut Pieter de Villiers as sy skrumafrigter gehad het.

Die Bokke se goeie skrumwerk vanjaar was vir Proudfoot ’n pluimpie, maar Erasmus self was die brein agter die uitsonderlike lynstaanspel.

Ofskoon daar ’n nuwe hoofafrigter aangestel word, is die werklikheid dat die pos vorentoe nie soveel gewig as in die verlede gaan dra nie.

Erasmus, wat maande gelede al gesê het dat hy sy pos as Bok-afrigter ná die Wêreldbeker-toernooi gaan ontruim, sal as direkteur van rugby steeds ’n oorsigtelike rol vertolk wat die afrigting betref.

Hy sal egter meer tyd hê om hom met die groter prentjie van Suid-Afrikaanse rugby te bemoei.

Benewens sy pligte vanjaar as Bok-afrigter is Erasmus ook in vennootskap met die provinsies besig gehou met die identifisering en kontraktering van spelers van nasionale belang.

Dit lyk dus asof Suid-Afrikaanse rugby beweeg na ’n model wat gevolg word deur Europese klubs, waar ’n hoofafrigter verslag doen aan die direkteur van rugby.

Die verwagte aanstelling van Nienaber sal dalk kritiek ontlok omdat hy nog nie vantevore ’n hoofafrigter was nie, maar kragtens die fisieke afrigting van die span, vervul niemand ’n groter rol as hy nie.

Dit skep ook vir die eerste keer in die beroepsera kontinuïteit in die oorgang tussen Bok-afrigters. In die verlede het elke nuwe Bok-breier ’n nuwe koers ingeslaan.

Daar was in vroeëre eras ook weinig samewerking tussen die Bok- en Superrugby-afrigters.

Erasmus se identifisering van spelers van nasionale belang en die bybetaling wat Saru aan hul salarisse by die provinsies doen, sal vir nouer samewerking sorg en klippe uit die Bok-afrigter se pad rol.

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Springbok-Afrigter  |  Bok-Afrigter  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.