Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok Arno Botha wil Jake nou reg bewys
Arno Botha op die oefenfiets by Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Jy dink jy is fiks totdat die eerste wedstryd gespeel word.

Die eerste twee, drie wedstryde proe jy gewoonlik bloed en dan raak dit eers beter.

Só beskryf die Springbok-losvoorspeler Arno Botha die Bulle se uitdaging Saterdag teen die Haaie op Loftus Versfeld.

Die vier Superrugby-franchises sal op “Superfan”-Saterdag die gedwonge aftyd wat die koronaviruspandemie tot gevolg gehad het, helaas beëindig.

In die ander wedstryd sal die Stormers en die Leeus mekaar aandurf.

Die vraag is: Is die spelers ná so ’n lang tydperk sonder aksie en ná net sowat drie weke se kontaksessies gereed om die spel te hervat?

“Die enigste manier om ten volle kontakfiks te word, is op die veld. Jy kan dit nie regtig op die oefenveld naboots nie,” sê Botha.

“Dalk sou nog twee weke se kontak gehelp het, maar ek dink nie dit sou veel verskil gemaak het nie.

“As ons nie reg was nie, sou ons nie Saterdag gespeel het nie.”

Daar word gewoonlik vertel dit wat op die telbord gebeur, is nie eintlik belangrik in sulke losmakers nie.

“Dit sal seker altyd op ’n manier ’n sielkundige faktor wees. Ons het baie om aan te werk en Saterdag is ’n goeie geleentheid. Jy wil steeds goed vaar om te bevestig dat jy op die regte pad is,” aldus die losvoorspeler.

Die gedagte dat hy weer in ’n Bulle-trui op Loftus kan uitdraf, maak hom duidelik baie opgewonde.

“Ek het dit al baie gesê, die Bulle was nog altyd ’n deel van my lewe en sal altyd wees.

“Ek geniet dit om terug te wees. Ja, die weer is lekker, maar veral ook om in so ’n ongelooflike omgewing hier te wees.”

Arno Botha verlede seisoen op die aanval vir Munster teen die Cheetahs in die Pro14-reeks. Foto: Gallo Images

Botha sê ’n kort vakansie in Suid-Afrika in Maart – toe hy nog op Munster in Ierland se boeke was – het onverwags maande geword.

“Dit was nie beplan nie. Jake (White, die Bulle-breier) het my gebel en met my gepraat oor sy plan vir die Bulle.

“Hy is ’n ongelooflike afrigter en dit het my energie gegee.”

En natuurlik is daar ’n Bok-droom wat die 28-jarige Limpopo-boerseun nie laat vaar het nie.

“Ek wil graag weer vir Suid-Afrika speel en in daardie opsig is daar geen beter kans as dié een nie.

“Dit is ’n enorme eer dat iemand soos Jake in my glo en dit motiveer my.

“Dit (om weer toetsrugby te speel) sal die kersie op die koek wees.

“Die doelwit is nou om vir die Bulle ’n aanwins te wees en ek sal graag vir Jake wil wys dit was ’n goeie besluit om my te kontrakteer.

“Ek gaan nie ontken dat ek steeds die Bok-droom het nie en dít is hoekom ek weer in Suid-Afrika speel.

“Maar ek gaan myself nie doodstres en wakker lê deur nou daaraan te dink nie.”

Meer oor:  Jake White  |  Arno Botha  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.