Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-besluit ‘teësinnig geneem’
Jurie Roux gee toe die besluit om die Springbokke aan die Rugbykampioenskap te onttrek sal hul kommersiële vennote en ondersteuners teleurstel. Foto: Gallo Images

Die besluit is vir hom geneem, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Vrydag gesê nadat daar aangekondig is die Springbokke sal nie in die Rugbykampioenskap in Australië speel nie.

Daar word aangevoer spelerwelstand, onsekerheid oor die regering se reisregulasies en die beskikbaarheid van oorsese Bokke het uiteindelik die wêreldkampioen se 2020-seisoen beëindig sonder dat ’n enkele toets gespeel sal word.

“Ons tyd is verstreke en ons het geen ander keuse nie,” sê Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru.

Roux benadruk die besluit is teësinnig geneem, maar dat hardnekkige Covid-19-komplikasies en vrese dat spelers se welstand kwaai in gedrang sou kom, dit onmoontlik gemaak het om die Springbokke in die kampioenskap te laat speel.

Oorsese sportdeelname word weer toegelaat, maar Saru voer aan die regering se konsepregulasies maak dit onseker of die span wel na Australië sou kon vlieg.

’n Groep van 46 plaaslike spelers sou Sondag van Johannesburg gevlieg het, terwyl daar 24 oorsese spelers vir moontlike insluiting geïdentifiseer is en vir wie daar visumaansoeke gedoen is.

Roux sê die spelers, wat vir klubs in Engeland, Ierland, Frankryk en Japan speel, is onderworpe aan daardie lande se verskillende (Covid-19)-regulasies en reisprotokolle.

“Dit was nie duidelik wanneer die spelers funksionele lede van die Springbok-groep in Australië sou wees nie.

“Ons besef dat openbare veiligheid eerste gestel word en dat ons nie kon verwag om spelers deur middel van kortpaaie in die Springbok-borrel te kry nie.

“Die uitkoms is uiters teleurstellend vir ons ondersteuners en kommersiële vennote, maar die voortgesette impak van die pandemie het veroorsaak dat ons nie ’n Springbok-span kon lewer sonder dat spelerwelstand in gedrang kom nie.

“Sanzaar en Rugby Australië (RA) het uit hul pad gegaan om die toernooi moontlik te maak en dit sal onbillik teenoor hulle en hul vennote wees om die besluit verder uit te stel,” sê Roux in ’n verklaring van Saru.

Sommige van daardie spelers het Covid-19-gevalle gehad by die klubs waar hulle speel en dit het die beplanning ontwrig.
Rassie Erasmus

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê daar is die laaste ruk vir elke moontlike scenario beplan.

“Ons het uitgewerk dat die spelers minstens 400 minute se speeltyd moes hê voordat hulle gereed sou wees vir toetsrugby.

“Die oorsese spelers het voor ons begin speel en baie van hulle sou teen 7 November (wanneer die Bokke hulle aanslag in die kampioenskap teen Argentinië sou begin het) naby aan die 400 minute-kerf gewees het.

“Sommige van daardie spelers het Covid-19-gevalle gehad by die klubs waar hulle speel en dit het die beplanning ontwrig.

“Die spelers in Japan het nog glad nie rugby gespeel nie, terwyl die plaaslike spelers teen die tyd wat die kampioenskap begin, nie naby daaraan (400 minute) sou wees nie,” sê Erasmus.

Die Suid-Afrikaanse spelers het verlede naweek amptelik tot die speelveld teruggekeer toe die Superrugby Unlocked-reeks afgeskop het – 29 weke nadat die volwaardige Superreeks in Maart in die slag gebly het.

Springbokke soos Duane Vermeulen, Siya Kolisi en Lukhanyo Am sal nou in die Unlocked-reeks en daarna in die Curriebeker-kompetisie vir hulle provinsies diens doen.

• Die Springbokke het in 1991 laas nie ’n enkele toets in ’n kalenderjaar gespeel nie. Die laaste keer wat die Bokke nie in ’n kalenderjaar teen die All Blacks gespeel het nie, was in 1993 en die Wallabies 1994.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.