Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Brandpunte: Los vir Elton en Handré uit!

Die Springbokke kon nog nie ’n oorwinning in enige van hul drie wegtoetse vanjaar behaal nie. Hulle het boonop Saterdag in Brisbane ’n gulde geleentheid verspeel om ’n verswakte Wallaby-span die eerste keer sedert 2013 in Australië te klop. Swak besluitneming, individuele foute en gebrekkige afronding het onder meer tot hul ondergang in hul nederlaag van 23-18 gelei. Hendrik Cronjé probeer sin maak van wat fout gegaan het en kyk vorentoe voordat die Bokke Saterdag in Wellington in ’n Rugbykampioenskap-toets teen die All Blacks te staan kom.

Malcolm Marx op loop teen die Wallabies. Foto: Getty Images

Lynstaan-ingooie nou ’n krisis

’n Belangrike rede waarom Suid-Afrika vanjaar met sy bestendigheid sukkel, is die hakers se gemiddelde ingooiwerk by die lynstane.

Malcolm Marx is in die meeste afdelings van sy spel reeds die beste haker ter wêreld. Sy lynstaan-ingooie is ongelukkig nog nie een van daardie afdelings nie.

Bongi Mbonambi se ingooie was eersteklas in Junie se toetse teen Engeland. Maar ook hy sukkel nou daarmee. Hy het Saterdag in die Suncorp-stadion twee belangrike ingooie verbrou wat die Bokke se kanse op ’n moontlike oorwinning laat ontspoor het.

Ingooie het baie met selfvertroue te doen. Verwag dat dié hakers en hul rankers volgende week langer tyd as die stelskoppers op die oefenveld sal deurbring om daardie selfvertroue en verstandhouding te probeer herstel. Iemand soos Schalk Brits kan hier ’n groot rol agter die skerms speel om die probleem reg te stel.

Faf de Klerk. Foto: Getty Images

Skrumskakel-diepte onder vergrootglas

Hoe gemaak as Faf de Klerk weer ’n afdag op kantoor soos in Brisbane beleef?

Dis een van die vrae waarmee die Bok-afrigtingspan oor die volgende paar dae sal worstel. Die tameletjie is dat daar nie juis ’n oorvloed aan skrumskakels van wêreldgehalte hul rugby in Suid-Afrika speel nie.

Iemand soos Embrose Papier, wat op die bank teen die Wallabies gesit het, maak ’n mens opgewonde oor wat hy vorentoe kan bied, maar hy is nog nie eens sy franchise (Bulle) se eerstekeuse-skrumskakel nie.

Ivan van Zyl, wat teen Engeland die tweedekeuse-skrumskakel was, het in Suid-Afrika agtergebly. Hy kan eers weer in die tuistoetse teen die Wallabies en All Blacks betrek word.

Ross Cronjé is die derde skrumskakel op toer en moet ná die gebeure in Brisbane skielik optimisties oor sy kanse voel om in berekening vir die toets in Wellington te kom.

Dit sal intussen nie verbaas as iemand soos Cobus Reinach se naam skielik weer in die vergaderings van die Bok-keurkomitee bespreek word nie.

Elton Jantjies. Foto: Getty Images
Handré Pollard. Foto: Gallo Images

Sleutelbord-krygers knak losskakels

Elton Jantjies en Handré Pollard het die slagoffers van die ewigdurende bekgevegte op sosiale media geword.

As Jantjies speelkans kry, skryf die sogenaamde Pollard-ondersteuners hom af. Dra Pollard die tientrui, lig die sogenaamde Jantjies-kamp weer tientalle foute uit.

Die teenoorgestelde is ook waar. Jantjies moet soos Saterdagaand net ’n gemiddelde vertoning lewer om deur sy eie sogenaamde Twitter-soldate as bogemiddeld beskryf te word. Al het hy net met tye aan die verwagte standaarde van ’n Bok-losskakel voldoen en dit nie eens vir die volle 80 minute oorskry nie.

Albei spelers se selfvertroue is in die proses geknou. Die harde werklikheid is dat spelers soms ’n afdag beleef, maar dit maak hulle nie noodwendig slegte spelers nie.

In belang van Bok-rugby moet Pollard en Jantjies voortaan slegs aan een stel standaarde gemeet word. Dít is die van ’n Bok-losskakel.

Moenie langer van hulle ’n politieke speelbal maak nie. Spelers is bewus van wat op in die media, veral sosiale media, gesê word. Dit het albei se selfvertroue geraak.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, stamp Will Genia af. Foto: Reuters

Duane maak ’n verskil

Voordat hy vir die reeks teen Engeland betrek is, was daar ondersteuners wat Duane Vermeulen se insluiting bevraagteken het.

Daar was ’n vraagteken oor sy kondisionering. Andere het gemeen sy beste dae as ’n toetsspeler is getel. Sy lojaliteit is bevraagteken. Die lys was lank.

Vermeulen was egter uitstekend in die wentoetse teen Eddie Jones se span.

Sedert hy nie meer deel van die Bok-lostrio is nie, sukkel Rassie Erasmus om die regte balans in sy afwesigheid in twee toetse teen Argentinië en die Wallabies te vind. Die Bokke sonder en met Vermeulen is twee baie verskillende gediertes.

Hy is ’n speler vir die groot oomblikke en beskik oor die vermoë om dan iets spesiaal te vermag wat die verskil tussen wen en verloor kan beteken. Die Bok-lostrio bly ’n bekommernis voor die toets in Wellington in spelers soos Vermeulen en Marcell Coetzee se afwesigheid. Vermeulen se leierskap word ook tans gemis.

Will Genia en sy Wallaby-spanmaats vier hul sege oor Suid-Afrika. Foto: Reuters

Alles nog nie verlore

Sekere ondersteuners sal sê ’n mens gryp na strooihalms, maar die Bok-span van 2009 het ook in Brisbane (21-6) verloor voordat hulle sewe dae later in Hamilton die All Blacks met 32-29 geklop het. Dít was terloops die laaste keer dat Suid-Afrika in Nieu-Seeland kon wen.

Die All Blacks is die volslae gunstelinge om Saterdag te wen. Japan se Wêreldbeker-sege oor die Bokke in Brighton herinner ’n mens wel daaraan dat rugby met ’n ovaal bal gespeel word. Die bal kan op ’n gegewe dag in enige span se guns wip.

Dis ook waar dat 2009 se span gevestigde kombinasies en selfvertroue gehad het. Hulle het onder meer met ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus en tuisseges oor die All Blacks en Wallabies in die vliegtuig na Hamilton gevlieg.

Teenoor hulle moet die huidige Bok-span grootliks op geluk staatmaak om ’n moontlike skokoorwinning in Wellington te behaal.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Rugbykampionskap  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.