Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-breier ‘vir g’n oomblik spyt’

Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, glo steeds vas dat dit die regte besluit was om die Springbokke aan vanjaar se Rugbykampioenskap te onttrek.

Bok-afrigter Jacques Nienaber meen die inperking het 'n groot uitwerking op die spelers gehad. Foto: Getty Images

“Ek is vandag gelukkig en tevrede met die besluit. Elke land het sy eie uitdagings tydens die inperking gehad. Ons inperking was ingrypend en die uitwerking op die spelers was groot,” het Nienaber die week aan Rapport gesê.

Hy het in die gesprek ook verklap dat ander partye betrek is om die situasie te evalueer en dat dit nie net hy, Rassie Erasmus, direkteur van SA Rugby, en Jurie Roux, uitvoerende hoof, was wat die besluit geneem het nie.

“Ons het spesialiste betrek om ons te adviseer oor aspekte wat die spelers geraak het. Dit het vir ons gegaan oor wat die beste vir die spelers en die span sou wees.”

Die beserings wat Handré Pollard, RG van Zyl, Lood de Jager en Eben Etzebeth opgedoen het kort nadat hulle ná die inperking weer by hul oorsese klubs begin oefen en speel het, het ook ’n klaarblyklike invloed op die besluit gehad.

Nienaber is min gepla dat hy en die Bok-bestuurspan onder kritici deurgeloop het ná Argentinië se aanvanklike sukses in die reeks.

Hy sê Argentinië het minder suksesvol geraak nadat beserings die span begin ontwrig het, iets wat onafwendbaar was nadat die inperking die spelers so erg ingehok het.

Ons moet onthou dat ons spelers aan die begin van die inperking in hul huise en blyplekke vasgekeer was.

“Ons moet onthou dat ons spelers aan die begin van die inperking in hul huise en blyplekke vasgekeer was. Hulle het nie oefengeriewe, apparaat of kundige mense gehad wat hulle kon kondisioneer nie.

“In 2019 is Eben Etzebeth beseer, maar danksy ons kondi­sioneringspan kon hy ’n suksesvolle terugkeer maak en met sy eerste toets terug op die veld was hy die Speler van die Wedstryd.

“Sonder daardie ondersteuning van die kondisioneringspan kan ons nie spelers sommer net weer terug op die toetsveld sit nie.

“Toe ons spelers wel ná die inperking begin oefen het, het die verslae aangedui hoe ver agter hulle is met hul kondisionering, met veral hul laerbeenkrag wat nie voldoende was nie, omdat van die spelers vir vyf weke nie kon hardloop nie.

“Ons was ook die laaste rugbyland wat na die oefenveld kon terugkeer, wat ’n groot agterstand was. Vir ons het die spelers toe die swaarste begin weeg in ons besluit of ons sou speel of nie. Hul welstand kom eerste.

“Argentinië het nie ’n Curriebeker nie, so as hulle nie in die Rugbykampioenskap gespeel het nie, sou hulle niks kon aanbied nie. Hul probleem was anders as ons s’n, so dit is onregverdig om ons en hulle met mekaar te wil vergelyk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.