Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke midde in ‘Stalinistiese’ boete

Montpellier is met €470 000 (meer as R7,8 miljoen) deur die Franse rugbyliga (LFP) beboet omdat die klub versuim het om by die Top14-reeks se salarisbeperkings te hou.

Die Springbokke Jannie Du Plessis, Frans Steyn en Bismarck Du Plessis se Franse klub Montpellier is beboet omdat hy versuim het om by die Top14-reeks se salarisbeperkings te hou. Foto: Getty Images

Die LFP sê in ’n verklaring Montpellier, wat beweer hy is die slagoffer van ’n “Stalinistiese stelsel”, het die perk van €11,3 miljoen per jaar vir salarisse oorskry.

Die aanvanklike boete van €400 000 is tot €470 000 verhoog nadat Montpellier versuim het om die nodige dokumente aan die LFP te verskaf, sê die beheerliggaam.

Rugby365 berig die salarisse van die Springbok-broers Bismarck en Jannie du Plessis tel onder die wat die LFP se aandag getrek het.

Volgens Reuters verdien die veelsydige agterspeler Frans Steyn €500 000 per jaar by Montpellier, terwyl Netwerk24 in Mei berig het Handré Pollard sluit hom ná die Wêreldbekertoernooi daar aan op ’n aanbod wat sal meebring dat die losskakel sowat R20 miljoen ’n seisoen verdien.

Montpellier is ook op die Bok-skrumskakel Cobus Reinach se spoor en het boonop reeds Suid-Afrikaanse skolesterre soos Kade Wolhuter, Robbie Rodgers (albei Paul Roos) en Marcell Muller (Grey Kollege) gekontrakteer.

Die res van Montpellier se groot groep Suid-Afrikaanse spelers sluit in Johan Goosen, Jan Serfontein, Henry Immelman, Paul Willemse (wat intussen ’n Franse burger geword het), Nicolaas Janse van Rensburg en Jacques du Plessis.

Mohed Altrad, president van Montpellier. Foto: Getty Images

Montpellier sê hy gaan die boete appelleer. “Ek is teleurgesteld,” sê die klub se president, Mohed Altrad.

Antoine Vey, die klub se regsverteenwoordiger, sê: “Die woord is bietjie sterk, maar dit is ’n Stalinistiese stelsel. Daar is nie meer kontraktuele vryheid nie; die LFP bepaal die pryse van die spelers.

“Altrad het geld ingepomp en die balans van kleiner, minder georganiseerde klubs ontstel.

“Ek dink hy word geteiken. Ander klubs word ook geteiken.”

Die LFP het ook opgeskorte boetes aan Racing92 (€50 000) en Toulon (€40 000) gegee omdat die klubs nie die nodige dokumente verskaf het nie.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.