Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Potgieter sluit kontrak met Cheetahs
Hawies Fourie, hoofafrigter van die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Almal in die groep gaan in sy soeke na die beste 23-tal speelkans in die komende voorbereidingsreeks kry.

So het die Cheetahs se hoofafrigter, Hawies Fourie, Donderdag met die bekendmaking van sy span vir sy eerste wedstryd in die reeks teen die Stormers in Kaapstad gesê.

Die span verwelkom ’n handvol spelers terug van beserings en twee van die nuwe gekontrakteerdes – Schalk Ferreira (stut) en Rynier Bernardo (slot) – is in die beginspan.

Jacques Potgieter toe hy vroeër jare nog vir die Bulle Superrugby gespeel het. Hy sal vir die volgende jaar vir die Cheetahs uitdraf. Foto: Gallo Images

Fourie het voorts onthul dat hulle die Springbok-flank Jacques Potgieter – nadat hy sy fiksheid bewys het – vir ’n jaar gekontrakteer het. Hy en die nuwe losskakel Brandon Thomson sal Maandag by die Vrystaters inval.

“Die kompetisie gaan vir ons oor wedstrydtyd. Ons gaan ons hele groep roteer en vir almal kans gee om te speel.

“Uit my oogpunt gesien: Ek wil graag ná die kompetisie weet wie is my beste 23 spelers,” sê Fourie.

“Almal gaan dus ’n regverdige kans kry. Vir ’n speler is dit ’n goeie ding om te weet jy gaan speelkans kry – jy gaan kans kry om jou kleim af te steek en jy hoef nie te wag vir iemand om seer te kry voordat jy jou kans kry nie.”

Fourie is veral in sy noppies oor die splinternuwe voorry tot sy beskikking.

Die Kings se ervare loskopstut Ferreira word saam met Wilmar Arnoldi en Aranos Coetzee ingespan.

Arnoldi (haker) het herstel van ’n wangbeenbesering en Coetzee van ’n enkelbesering.

Fourie sê dis lekker om Ferreira en Coetzee te hê om hul skrum te anker. Coetzee het die Superrugby Unlocked-, sowel as die Curriebeker-reeks, misgeloop.

“Die Stormers het ’n baie goeie skrum. Dít weet ons almal. Ons weet Frans Malherbe en Steven Kitshoff speel nie, maar Ali Vermaak en Neethling Fouché is twee ordentlike ouens en hulle skrum rêrig goed. Die skrum en die druk wat hulle op ander spanne wil sit, is ’n groot ding vir die Stormers.”

Ali Vermaak en Neethling Fouché is twee ordentlike ouens en hulle skrum rêrig goed. Die skrum en die druk wat hulle op ander spanne wil sit, is ’n groot ding vir die Stormers.
Hawies Fourie

Bernardo, wat voorheen vir die Cheetahs slot gespeel het, sal nou die rol vervul wat Reniel Hugo voorheen gehad het. Hugo is intussen vort na die Haaie.

Die agterlyn wat vir Saterdag se stryd in die Kaapstad-stadion gekies is, verskil net op een plek van die een wat in die Cheetahs se laaste Curriebeker-wedstryd gespeel het, met Chris Smit wat Dries Swanepoel op buitesenter vervang.

Ruan Pienaar Foto: Gallo Images

Die skrumskakel Ruan Pienaar sal in sy eerste wedstryd sedert die begin van Oktober verlede jaar as plaasvervanger opgestuur word. Hy het van ’n kniebesering herstel.

“As hierdie ’n ordentlike kompetisie was met iets op die spel, sou dit dalk anders gewees het. Hy gaan die laaste 20 en 30 minute speelkans kry,” het Fourie oor sy plan met sy ervare Bok gesê.

Die veelsydige agterspelers Craig Barry (knie), William Small-Smith (harsingskudding) en Malcolm Jaer (heup), sowel as die stut Charles Marais (nek), flank Junior Pokomela (polsgewrig) en haker Louis van der Westhuizen (knie) is weens beserings nie oorweeg nie.

Rasta Rasivhenge is die skeidsregter.

Die Cheetahs is:
Clayton Blommetjies, Duncan Saal, Chris Smit, Frans Steyn, Rosko Specman, Reinhardt Fortuin, Tian Meyer, Jeandré Rudolph, George Cronjé, Andisa Ntsila, Rynier Bernardo, Carl Wegner (medekaptein), Aranos Coetzee, Wilmar Arnoldi, Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Marnus van der Merwe, Conraad van Vuuren, Khutha Mchunu, Victor Sekekete, Aidon Davis, Ruan Pienaar (medekaptein), Dries Swanepoel, Rhyno Smith.
 
Meer oor:  Jacques Potgieter  |  Ruan Pienaar  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Kaapstad  |  Voorbereidingsreeks  |  Afrigter  |  Rugby  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.