Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-held CJ pak tokse weg; nou skrumdokter
CJ van der Linde

CJ van der Linde, een van die onbesonge helde van die Springbokke se Wêreldbekerglorie in 2007, het stil-stil sy tokse weggepak om sy oud-breier Jake White se skrumafrigter by die Franse klubspan Montpellier te word.

“Ek het in November my een boarmspier geskeur en toe besluit dis nou genoeg beserings,” het Van der Linde die week uit Montpellier aan Rapport gesê.

Voor sy besering was die 35-jarige Van der Linde saam met Hond van der Merwe, Pat Cilliers (hy is nou op pad na Leicester Tigers in Engeland) en Jannie du Plessis die Suid-Afrikaanse stutte wat deur White gekontrakteer was.

“Soos dinge nou staan, is ek klaar met rugby (as ’n speler) en spits ek my net op die skrums toe. Dit is nou vir my ’n groot voorreg om saam met manne soos Jannie en Nicolas Mas te werk. Hulle is van die beste vaskopstutte ter wêreld. Dit is lekker om idees met hulle uit te ruil.”

Du Plessis, sy broer, Bismarck, Victor Matfield, Schalk Burger, Juan Smith, Bryan Habana, Frans Steyn, Jaque Fourie, JP Pietersen, Ruan Pienaar en Wynand Olivier verdien sedert 2007 se Wêreld-beker-eindstryd steeds hul salarisse op die rugbyveld.

Os du Randt, John Smit, Van der Linde, Bakkies Botha, Danie Rossouw, Butch James, Percy Montgomery, Johann Muller, Wikus van Heerden en André Pretorius het almal uitgetree.

Fourie du Preez, die ander speler wat in die Bokke se 22-tal vir die eindstryd was, het nog nie ’n finale besluit oor sy loopbaan geneem nie.

Van der Linde het die Bok-trui in 75 wedstryde gedra nadat hy sy land ook op skole-, o.19- en o.21-vlak verteenwoordig het.

Die boorling van Welkom het verskeie hoogtepunte in sy loopbaan bereik – insluitend die verowering van die Curriebeker in 2005 in die Vrystaat-trui.

Hy het ook onder meer die Stormers, Leeus, Leinster, London Irish en die Kings verteenwoordig.

Dié oudleerling van Grey-kollege is tot 30 Junie 2017 deur Montpellier gekontrakteer.

Hy is ook baie opgewonde oor die “goeie werk” wat White by Montpellier doen.

“Ons maak dié seisoen goeie vordering. Ons het verskeie wegwedstryde gewen en as jy die Franse top-14-liga verstaan, is dit baie moeilik om dít te doen.

“Op die oomblik gaan dit goed, maar die seisoen is nog lank. Ons doelwit is om in die volgende twee jaar die top-14 te wen,” het Van der Linde gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.