Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok Herschel bring hulde aan Chester
Herschel Jantjies, die Stormers se Springbok-skrumskakel, ontvang Woensdagaand in die Kelvin Grove-klub in Nuweland een van sy pryse van die WP-Rugbyunie se president, Zelt Marais. Foto: Gallo Images

Herschel Jantjies, die Stormers se Springbok-skrumskakel, het Woensdagaand op die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se prysuitdeling hulde gebring aan die rol wat die ontslape Bok-vleuel Chester Williams in sy dramatiese opgang vanjaar gespeel het.

“Die oorsprong van alles was seker by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). As dit nie vir die UWK en coach Chester Williams was nie, sou ek seker nie hier gewees het nie. Hy het aan my die geleentheid gegee om aan die UWK te studeer en speelkans te kry,” het Jantjies gesê.

Jantjies, wat sy deurbraak in 2017 onder Williams se afrigting by die UWK gemaak het, het die skoknuus van die voormalige Bok-ikoon se afsterwe in September ontvang toe hy saam met die Springbokke in Japan vir die Wêreldbeker-toernooi was.

Hy was ’n puik man en sal vir ewig in my hart bly. Hy het aan my ’n lewensboei gegee om my rugby te lig.
Herschel Jantjies

“Ek was nog veronderstel om die vorige naweek saam met hom by die bekendstelling van sy bier te wees. Hy was ’n puik man en sal vir ewig in my hart bly. Hy het aan my ’n lewensboei gegee om my rugby te lig,” het Jantjies gesê.

Die 23-jarige Jantjies is Woensdagaand as die WPRU se Agterspeler van die Jaar en die Spelers se Speler van die Jaar aangewys. Dít kom nadat hy vir die Stormers in die Superreeks uitgeblink en ook in ’n Bok-trui geskitter het.

“Dis lekker om individuele pryse te kry, maar rugby bly ’n spansport. Ek sou dit nie kon gedoen het as dit nie vir my spanmaats en afrigters was nie,” het hy gesê.

Die Springbokke in ekstase ná die oorwinning in die eindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi. (Getty Images)

Jantjies het sy rugbyjaar op die Bokke se plaasvervangersbank in die Wêreldbeker-eindstryd afgesluit en was onder die benoemdes vir Wêreldrugby se Deurbraakspeler van die Jaar. Die Franse losskakel Romain Ntamack het die prys ontvang.

“Ek het nou nog nie ’n antwoord as mense my vra hoe dit voel om die Wêreldbeker te wen nie. Ek weet nie hoe om dit te beskryf nie,” het hy gesê.

“Van hier af moet ek net harder werk. Hopelik kan ons die momentum na die Superreeks oordra en die trofee in die Kaap staanplek gee.”

Hy meen ook dit sal die spelers motiveer weens die feit dat dit die Stormers se laaste seisoen op Nuweland gaan wees.

“Ek dink die spelers sal met baie emosie speel, veral die ouer manne. Ek kan nie wag vir die eerste wedstryd en om weer in ’n Stormers-trui op te draf nie,” het Jantjies gesê.

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit  |  Herschel Jantjies  |  Kaapstad  |  Rugby  |  Skrumskakel  |  Wp  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.