Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke, pa se wens en Jake laat Johan kies

Johan Goosen se besluit om ’n Bul te word was vir hom ’n wroeging omdat dit byna gevoel het asof hy sy ou span, die Cheetahs, versaak. Maar uiteindelik het sy drang om weer vir die Bokke uit te draf en die kans om onder ­Jake White te speel die deurslag gegee.

Johan Goosen korrel pale toe vir die Bokke in 2016. Foto: Getty Images

Sy pa se verlange om hom weer in lewende lywe te sien speel, het hom ook oorgehaal om na Suid-Afrika terug te keer – al kon dit nie na sy geliefde Vrystaat wees nie.

Goosen het gister uit Frankryk aan Rapport vertel hoe hard sy groot rugbymaat Frans Steyn sy arm gedraai het om hom eerder by die Cheetahs aan te sluit. Steyn se familieplaas is teen Goosen-hulle s’n en die twee is al lank goeie vriende.

“My groot vriend Steyntjie is seker nog kwaad vir my oor die besluit,” lag Goosen.

“Ja, ons praat elke dag. Dis moeilik vir Steyntjie. Hy is op ’n plek in sy lewe waar hy ingeburger is. Hy het ’n mooi huis in Bloem, sy kinders is in die skool en hulle is gelukkig.

“Hy is ook naby sy plaas en speel flippen goeie rugby,” voeg hy by.

Die veelsydige Springbok het vroeër besluit om hom in Bloemfontein te vestig en vir die Cheetahs te speel – voordat hy ’n U-draai in die rigting van Loftus Versfeld gemaak het.

Vir Goosen was ’n deurslaggewende faktor die feit dat die Cheetahs nie tans weet of hulle in ’n internasionale kompetisie gaan speel nie.

“Ek was in Suid Afrika en het vir Hawies (die Cheetahs se breier) gaan sien. Laat ek eerlik wees. Dit was nie ’n maklike besluit nie. Ek het by die Cheetahs begin en ken almal, dis naby die plaas en Hawies het alles maklik vir my gemaak.

“Ek het half sleg gevoel oor my besluit, want ek kom van Bloem af en ken die plek,” verduidelik hy.

“Jake het my gebel en vir my gesê hy wil met my werk en my weer die beste maak. Dit was nie maklik nie, en die besluit kon enige kant toe gegaan het.”

Goosen se grootste begeerte is weer om vir die Springbokke te speel.

Ja, ek wil ek weer vir die Bokke speel. Dit is een van die grootste redes waarom ek terugkom.

“ ’n Groot rede waarom ek terugkom, is dat my pa eendag vir my gesê het hy mis dit om langs die veld te wees by my wedstryde, hy mis my rugby. Hy was nog altyd by al my wedstryde. Ek sien nou uit om hom daar te hê, want hy het ’n groot invloed op my.

“Ja, ek wil ek weer vir die Bokke speel. Dit is een van die grootste redes waarom ek terugkom.

“Hier by Montpellier is dit deurmekaar – dan speel ek 13, 15 en 10. Die ander dag het ek vleuel gespeel. ’n Ou wil net ’n paar wedstryde in dieselfde posisie speel. Dit is moeilik, en ek wil weer skop.

“Ek sê nie dit gaan makliker wees om by die Bulle weer in die Bok-span te kom nie – maar die feit dat die Cheetahs nie ’n kompetisie het nie, het ’n groot rol gespeel.”

Oor dinge wat in die verlede gebeur het en tot sy groot “uitval met rugby” gelei het, wil hy eerder nie praat nie.

“Daar het goed gebeur en besluite is geneem. Ek sal nie sê dit was 100% my eie besluite nie, maar ek sal niemand onder die bus gooi nie. Ek vat alles op die ken en moet pa staan daarvoor.

“Dit is wat dit is. Ek dink 10% van die koerantberigte het die waarheid weergegee. Ek het al geleer om nie terug te baklei nie, want dan is daar net nóg groter berigte. Dit was moeilike tye vir ons en ons is daardeur.

“Ek dink om terug te kom, en myself op die veld te bewys, sal hopelik mense se mening oor my verander.

Jake is half ’n pa-figuur vir ’n speler en hy praat letterlik met my asof ek sy seun is.

“Mense wat my ken, weet waardeur ons is. Nou wil ek net jol – ek voel ek kan nog vyf of ses jaar speel.”

En hy sien uit daarna om onder White by die Bulle te speel.

“Van die dag dat Jake my gebel het, loop dinge lekker. Hy is half ’n pa-figuur vir ’n speler en hy praat letterlik met my asof ek sy seun is.

“Ek dink hy gee baie om vir sy spelers, en dit wys op die veld. Dit lyk ook asof die ouens vir mekaar jol. Oral waar hy gaan, het hy sukses.”

Nou maak hy reg om terug te trek na Suid-Afrika, met sy vrou, Aletia, wat tans skole in Pretoria soek vir die kinders, Stean en Francois.

“My vrou en kinders kom saam Pretoria toe. My vrou ondersteun my nogal baie, en my oudste outjie weet al van die Blou Bulle. Ons sien ook daarna uit om nader aan die plaas te wees.”

Meer oor:  Jake White  |  Johan Goosen  |  Blou Bulle  |  Montpellier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.