Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-hulpafrigter in Dublin gesetel

In ’n eerste vir Suid-Afrikaanse rugby sal een van die Springbokke se hulpafrigters oorsee gevestig wees.

Jacques Nienaber, die Springbokke se nuwe hoofafrigter, en Felix Jones (regs) in gesprek gedurende ’n oefensessie in verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

Die Ier Felix Jones, wat Swys de Bruin verlede jaar as ’n konsultant in die Springbok-kamp vervang het en ’n lid van Suid-Afrika se seëvierende Wêreldbeker-span was, is saam met Mzwandile Stick die span se agterlynafrigters.

Hy sal egter in sy tuisstad, Dublin, gevestig wees, sê Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby.

“Ons moet realisties wees. Daar is meer as 400 van ons spelers wat oorsee speel.

“Felix sal ’n belangrike rol hê om ons spelers in Europa te bedien.”

Agt spelers uit die Springbokke se 23-tal wat in November in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland gespeel het – Cheslin Kolbe, Handré Pollard, Faf de Klerk, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert, Vincent Koch en Frans Steyn – speel vir Europese klubs.

Erasmus sê daar sal van Jones verwag word dat die spelers in die Noordelike Halfrond “ten volle op die hoogte is van wat ons planne is en dat ons presies weet hoe hulle kondisionering daar uitsien”.

“Hy moet toesien dat ons nie verrassings kry wanneer ’n speler van oorsee hier aankom nie (om vir die Springbokke te speel).

“Die oorsese spelers is nie deel van ons belyningskampe soos die plaaslike franchise-spelers nie en dit is waar hy ’n waardevolle rol vir ons sal speel.”

Die 32-jarige Jones het Ierland as ’n speler in 13 toetse op heelagter en vleuel verteenwoordig en was deel van dié span se suksesvolle Sesnasies-veldtog in 2015.

Hy het daardie jaar weens ’n nekbesering uitgetree en dadelik by afrigting betrokke geraak.

Jones en Erasmus se paadjies het in 2016 gekruis toe laasgenoemde as Munster se hoofafrigter aangestel is.

Erasmus en Deon Davids, oudafrigter van die Southern Kings, sal die voorspelers onder hande neem, terwyl Daan Human as ’n skrumkonsultant aangestel is.

“Die enigste ware verandering aan die afrigtingspan is Deon wat vir Matt Proudfoot vervang.

“Swys was ’n konsultant en Felix ook. Hy het nou ’n permanente rol.

“Hy en Stokke (Stick) sal die agterlyn en goed soos die vaardighede en hoë skoppe hanteer.

“Ek is, hoewel in ’n ander hoedanigheid, steeds by die span se afrigting betrokke. Daar is goeie kontinuïteit onder die afrigters,” sê Erasmus.

Meer oor:  Deon Davids  |  Rassie Erasmus  |  Felix Jones  |  Hulpafrigter  |  Springbokke  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.