Waar is Jacques Nienaber se invloed?
Tot voor die Springbokke se sege van 36-34 oor die All Blacks in Wellington Saterdag, is dit ’n vraag wat ek myself telkemale gevra het in Rassie Erasmus se eerste jaar as afrigter.

Jacques Nienaber / Foto: Gallo Images
Vir diegene wat al vergeet het, Nienaber is Erasmus se jarelange regterhand met verdediging. Om sy intellektuele kapitaal in perspektief te stel: Die Stormers het in 2012, toe hulle ná die Superreeks se ligafase boaan die puntelys was, met Nienaber as verdedigingsafrigter slegs 21 drieë in 16 wedstryde afgestaan.
Hy het wêreldwyd ’n reputasie as een van die spel se voorste verdedigingsafrigters en tog het ons vanjaar dikwels al ’n Bokspan gesien wat veral in die wye kanale akkers vol ruimte laat vir teenstanders om uit te buit.
Moontlik was dit te danke aan ’n gebrek aan ervaring deur jong spelers. Hoe dit ook al sy, het dit tot voor Saterdag nie gelyk asof die span Nienaber se stempel dra nie.
Skielik is die opvallende aspek van die Bokke juis hul verdediging. In daardie opsig is die statistiek dat die Bokke ses drieë afgestaan het misleidend.
Wat opgeval het, was die Bokke se lynspoed op die verdediging. Dis nie ’n maklike kuns om te vervolmaak nie, want dit behels dat spelers vinnig opskiet, maar terselfdertyd in ’n reguit lyn bly.
Kry jy dit reg, gun jy jou teenstander bitter min tyd en ruimte. Dis dan wanneer spelers soos die All Black-losskakel Beauden Barrett hom buite sy gemaksone bevind en swak besluite begin neem of paniekerig raak.
Jy moet die All Blacks natuurlik steeds kliphard lak en dapper wees om daarmee te slaag, maar die Bokke het dit tot hul groot krediet gedoen.
Barrett was nog nooit ’n watwonderse skopper pale toe nie, maar die All Blacks en sy streekspan, die Hurricanes, is meestal so in beheer van wedstryde dat dit nie ’n groot faktor is nie.
In die Superreeks is hy wel ook deur die Crusaders getem. Terloops is die Crusaders die span wat die beste in die Superreeks verdedig.
Als in ag genome was die onverwagse sege in Nieu-Seeland ’n taktiese meesterstuk deur Erasmus, wat opnuut gewys het hoe uitgeslape hy kan wees.
Dit was ook goed om te sien dat hy vir Bongi Mbonambi ’n mosie van vertroue gegee het deur hom in die pylvak van die wedstryd in Malcolm Marx se plek op te stuur.
Erasmus het homself vir kritiek oopgelaat deur Mbonambi voor rustyd in die wedstryd teen die Wallabies te vervang.
Kyk ’n mens terug kan jy nie help om te wonder hoe die Bokke só teen die Wallabies in Brisbane drooggemaak het nie. Dit het gelyk soos ’n wedstryd waar ’n slegte span ’n slegter een klop.
Nou is die Bokke skielik ’n span. Die publiek is aan boord en Cosatu genadiglik vir eers oorboord.
Rugbykampioenskap: Bepalings
Rugbykampioenskap: Puntelys
Rugbykampioenskap: Uitslae