Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-lostrio: Liggewigte of spelbrekers?

Die Superrugby-eindstryd verlede Saterdag tussen die Crusaders en die Leeus het straks bewys hoe baie die Springbokke die yster-agtsteman Duane Vermeulen by die Rugbykampioenskap gaan mis.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, tydens ’n Bok-oefensessie vandeesweek in Ravensmead. Foto: Gallo Images

Die Leeus se agtsteman en kaptein, Warren Whiteley, is waarskynlik die gunsteling om die Bokke se nr. 8-trui aanstaande Saterdag in die eerste toets van dié reeks teen Argentinië in Durban te dra. Wat egter kommerwekkend was in die Super-eindstryd in Christchurch, was dat Whiteley se tekortkominge as ’n agtsteman genadeloos blootgelê is.

Whiteley was nog nooit ’n agtsteman wat ’n skrikbewind in die loopgrawe kon voer nie. Die Crusaders het hom keer op keer eenvoudig teruggeduik en die Leeus kon hom nie gebruik om momentum te bewerkstellig teen die Crusaders se sterk verdediging langs die afbreekpunte nie.

Die Leeus-agtsteman en -kaptein, Warren Whiteley, maak kontak met die Jaguares se Agustin Creevy tydens die Superrugby-kwarteindstryd. Foto: Gallo Images

Whiteley het wel sy eie deugde as ’n agtsteman. Verskeie breiers, insluitend die Bulle se John Mitchell, verwys gereeld na sy vinnige wegspring vanuit ’n stilstaande posisie – ’n groot bate vir aanvalle van agter ’n vaste skrum.

Whiteley is uiteraard ook ’n uitmuntende leier, ’n goeie lynstaanspringer en gevaarlik in ruimte. Hoewel hy nie gereeld oorheers in duikslae nie, is sy lakwerk skaflik.

Die probleem is egter dat jy met só ’n tipe agtsteman in jou lostrio ’n boelie op flank benodig – iemand wat nie net die donkiewerk doen nie, maar ook as ’n baldraer kan oorheers.

Na aanleiding van wat Rassie Erasmus, die Bok-breier, vroeër vandeesweek op ’n nuuskonferensie gesê het, wil dit voorkom asof die lostrio wat teen Argentinië losgelaat gaan word, uit Whiteley, Siya Kolisi (op steelkantflank) en Marco van Staden gaan bestaan. Die kans bestaan ook dat die veteraanflank Francois Louw op agtsteman kan sak – ’n skuif wat die Bokke nóg meer van ’n groot baldraer kan beroof, aangesien Louw meer daarvan hou om na die bal toe te speel.

As Whiteley, Kolisi en Van Staden saam as losvoorspelers ingespan word, sal Kolisi die hoofbaldraer wees. Dié rol pas hom meer as die rol van oopkantflank, maar dit is steeds nie ’n rol wat hy so goed soos Vermeulen kan vertolk nie.

Dink net terug aan die drie wat Vermeulen teen Engeland in Bloemfontein gedruk het, toe hy verskeie Engelse verdedigers gestoomroller het op pad doellyn toe. Dit is moeilik om te sien hoe Kolisi of Whiteley met iets soortgelyks vorendag sal kan kom.

Bok-lostrio: Liggewigte of spelbrekers? Marco van Staden oefen saam met die Springbokke. Foto: Gallo Images

Wat die Bokke wel kan baat, is dat Van Staden nie net ’n derduiwel by die afbreekpunte is nie, maar ook ’n groot fisieke teenwoordigheid het. As hy op nr. 6 gekies word, is sy werk egter meer om na die bal toe te speel as om bo-oor verdedigers te storm.

Waar die spelpatroon wat die Bokke teen Engeland gebruik het, wel vir Whiteley kan pas, is in die buiteveld, wanneer teenstanders die bal veldop skop. Erasmus het Vermeulen teen Engeland gebruik om terug te val en hangskoppe langs die steelkantvleuel te ontvang.

As dié patroon herhaal word, kan Whiteley baljaar met ruimte en tyd tot sy beskikking.

Whiteley is ook nie so behendig soos Vermeulen by die afbreekpunte nie, maar met die samestelling van die Bok-span wat in die Rugbykampioenskap gaan speel, behoort dít nie so ’n groot probleem te wees nie.

Vermeulen was die hoofbaljagter in die reeks teen Engeland, maar met die haker Malcolm Marx terug en Van Staden, Louw en Cyle Brink in die Bok-groep, het die Bokke oorgenoeg baldiewe tot hul beskikking.

Van Staden het vanjaar 11 keer omgekeerde besit by afbreekpunte in die Superrugby-reeks bewerkstellig – die derde meeste in die hele reeks. Eerste op dié lys is Marx, wat ’n verstommende 24 keer omgekeerde besit bewerkstellig het.

Op die keper beskou, makeer ’n lostrio van Whiteley, Kolisi en Van Staden egter ’n varkhond wat teenstanders se voorspelers seermaak met die bal onder die arm.

Erasmus is egter ’n uitgeslape breier en net die tyd sal leer of die Bok-lostrio as liggewigte of as spelbrekers na vore gaan tree.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.