Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skouerloop, Marx onder vergrootglas

Dit was ’n titaniese stryd soos dit hoort wanneer Suid-Afrika en Engeland mekaar invlieg, maar dit was ’n toets wat die Springbokke moet gewen het.

Gegewe die besoekers se oorheersing hier in die eerste helfte op Twickenham, moes dit met oortuiging gewees het.

Sbu Nkosi duik oor vir die Bokke se enigste drie teen Engeland. Foto: Gallo Images

Maar dit sal in die rugby-annale opgeteken word dat Engeland die kragmeting met 12-11 gewen het.

Daar sal nog baie gesê word oor die skouerloop van die Engelse losskakel, Owen Farrell, op André Esterhuizen in die laaste beweging van die toets.

Sulke duikslae het al menige keer op ’n geelkaart en erger strawwe uitgeloop, maar daar is besluit dit regverdig nie ’n kans vir die Springbokke om aan te lê pale toe nie.

Maar kom ons wees eerlik, die Bokke het in die eerste helfte kans ná kans verspeel om die Engelse te bêre.

Jy het later ophou tel hoeveel besit in die lynstane verbou is.

Terwyl die tuisspan nie een keer tot naby die teenstander se doellyn kon vorder nie, het die Bokke lank voor rustyd vyf keer vir ’n aanvallende lynstaan by die doellyn aangetree – álles tevergeefs.

Malcolm Marx, die Bokke breker-haker, is welverdiend een van die benoemdes om as 2018 se voorste speler op die planeet gekroon te word. Hy was andersins weer ’n derduiwel, maar daar sal na dese nog meer vrae oor sy ingooiwerk wees.

Damian de Allende bars deur die Engelse verdedigingslinie. Foto: Gallo Images

Dit help ook niks jy is takties koning, maar die akkuraatheid en afronding makeer nie.

Suid-Afrika het aanvanklik al die besit en gebiedsvoordeel gehad. Die Bok-slot Pieter-Steph du Toit is reeds in die eerste beweging oor die voordeellyn en daar was vroeg tekens dat die Bok-voorhoede te veel in die enjinkamer vir die tuisspan sou hê.

LEES: BOK-RAPPORT

Die besoekers was ook strykdeur op die voorvoet.

Dat dié oorheersing teen rustyd slegs ’n voorsprong van 8-6 gebring het, was onverskoonbaar.

Siya Kolisi-hulle is toe reeds 33 keer oor die voordeellyn en dit is die binnesenter, Damian de Allende, wat die meeste skade aangerig het.

Engeland het daarby vir ’n ruk sonder die slot Maro Itoje gespeel, wat in die 15de minuut met ’n gele gestraf is vir ’n oortreding by ’n afbreekpunt.

Die volgende tien minute het net ’n Farrell-strafdoel opgelewer.

Eddie Jones, die Engelse breier, was vooraf vol slimstories oor hoe eenvoudig dit is om die Bokke se ondergang te bewerk. Verhoed dat hulle hul spiere bult en gebruik jou kanse, is sy wenformule.

Damian Willemse Saterdag teen Engeland op Twickenham in aksie. Foto: Gallo Images

Sy span het grotendeels daarin geslaag, hoewel die Rose aanstaande week teen die All Blacks baie meer om die lyf sal moet hê.

Vonkelwyn-rugby was dit beslis nie, maar dit is die bestanddeel van ’n knap span – om aan die wenkant te wees, al is jou teenstander die een wat die pas aangee.

En daarmee is Rassie Erasmus en sy span se aspirasies om die seisoen met ’n vier uit vier-toer af te sluit, iets van die verlede.

Ja, die Bokke was sonder ’n hele paar eerstekeuse-spelers, wat sekerlik ’n verskil sou maak.

Maar daardie verskoning val plat wanneer Engeland se ellelange beseringslys ter sprake kom.

Daar was darem ’n paar positiewe vertonings en Suid-Afrika se verdediging was van die boonste rak.

De Allende was puik in die middelveld en Du Toit was voor weer ’n masjien met die flank Duane Vermeulen nie ver agter nie.

Damian Willemse was in die laaste vesting soos ’n ou hand in sy eerste beginspan-toets.

Daar was hier en daar ’n benoude oomblik vir die jongeling en daar was die swak lynskop aan die einde, maar hy was enduit koelkop onder die druk.

* Puntemakers:

Engeland 12 (6). Strafdoele: Owen Farrell (3), Elliot Daly.

Suid-Afrika 11 (8) Drie: Sbu Nkosi. Strafdoele: Handré Pollard (2).

Meer oor:  Bokke  |  Rose  |  Springbokke  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.