Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-probleem ‘groter as net Allister’
Wynand Claassen sê die gevaarligte flikker vir Suid-Afrikaanse rugby. Foto: Deaan Vivier

Verlede jaar se ope brief aan die Suid-Afrikaanse rugbybase is gestuur uit kommer oor die stand van Springbok-rugby en was nie ’n vendetta teen Heyneke Meyer nie.

So sê Wynand Claassen, voormalige Springbok-kaptein en -keurder, wat een van die skrywers van die veelbesproke ope brief was.

“Dit was ’n pleidooi. En nie omdat ons ’n persoonlike stryd teen Heyneke wou voer nie.

“Te oordeel aan Saterdag se skandelike vertoning teen die All Blacks, is dit duidelik ons vrese was nie vergesog nie,” sê Claassen.

Verskeie oud-Bokke het verlede seisoen in ’n verslag wat aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gestuur is, gepleit dat Meyer, wat die Springbokke sedert 2012 afgerig het, se vierjaarkontrak met Saru nie hernu moes word nie.

Die verslag, wat deur Claassen en nog ’n oud-Bok-kaptein, Divan Serfontein, opgestel is, het as ’n ope brief in die media op die lappe gekom.

Talle ondersteuners is van mening Claassen en Serfontein het ’n veldtog teen Heyneke Meyer gevoer en vra waarom hulle nie nou ook die huidige afrigter, Allister Coetzee, kritiseer nie.

“Die meeste van die ouens wat ons aanvat, het nooit die verslag gelees nie. Dit was veel meer as ons ongelukkigheid oor hoe Meyer die span afgerig het.

“Ja, sy spelpatroon het veel te wense oorgelaat en hy het ’n klomp beseerdes en ou manne gekies, maar dit het grootliks gegaan oor die dieperliggende probleme in ons rugby.”

Claassen sê dit was Saterdag in Durban, toe die All Blacks die Bokke met 57-15 afgeransel het in die Rugbykampioenskap, duidelik die rooi ligte flikker vir Suid-Afrikaanse rugby.

“Dit is eintlik hartseer. Nieu-Seeland het in ’n stadium kat en muis met ons gespeel toe hulle net 14 spelers op die veld gehad het.

Die meeste van die ouens wat ons aanvat, het nooit die verslag gelees nie. Dit was veel meer as ons ongelukkigheid oor hoe Meyer die span afgerig het.
Wynand Claassen

“Mense wil weet waarom ons nie ook vir Allister kritiseer nie. Hy is nog nie eens ses maande in die pos nie.

“Ek, soos baie ander oudspelers, is vanselfsprekend steeds bekommerd oor ons rugby. Die probleem is egter meer omvangryk as Allister Coetzee se afrigting.”

Hy sê Saru kan gerus probeer vasstel waarom daar ’n armoede aan afrigters in die land is.

Claassen glo Saru se baadjiedraers moet pa staan vir hul besluit om ’n onervare breier soos Mzwandile Stick as ’n Bok-hulpafrigter aan te stel.Foto: Gallo Images

“Ek verwys geensins na velkleur nie, maar die baadjiedraers wat Mzwandile Stick as ’n hulpafrigter aangestel het, moet verduidelik waarom iemand met so min ervaring die pos gekry het.

“Ons het voorts kruisbestuiwing nodig om ons rugby te verryk.

“John Mitchell het die grondwerk gedoen vir die sukses wat die Leeus die afgelope tyd behaal het en sy deugde en ervaring kan baie beter benut word.

“John Plumtree is by die Haaie die deur gewys en vanjaar het hy die Hurricanes gehelp om die Superrugby-titel te wen.”

Claassen meen ’n omvattende bestekopname is nodig.

“Ek dink ons almal besef dit kan nie langer vermy word nie.

“Daar is ’n magdom vrae. Ek sal byvoorbeeld wil weet hoe dit moontlik is dat ’n speler soos Jan Serfontein, wat briljant was op skolevlak, nie naastenby tot sy reg kom nie.”

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.