
Die Springbokke wat die Wêreldbeker verlede jaar verower het, was ’n hegte eenheid, maar hoe sal ’n proefwedstryd verloop waarin hulle mekaar die stryd aansê? Foto: Gallo Images
Is daar nog ’n plek vir Springbok-proewe in rugby se beroepsera?
Ja, meen die voormalige Bok-kaptein Naas Botha, wat glo dit kan die koring van die kaf skei deur spelers se aanpasbaarheid te meet.
“Jy kan nie op grond van een of twee wedstryde sê jy is goed of sleg nie, maar in ’n nasionale span bevind jy jou in ’n groep waar spelers uit verskillende provinsies kom,” sê Botha.

Naas Botha, ’n voormalige Springbok-kaptein en legendariese losskakel, meen Springbok-proewe kan steeds in rugby se moderne era ’n doel dien. Foto: Gallo Images
“Sommige ouens kan aanpas en ander nie. As ’n ou nie kan aanpas nie, waarom hom op ’n toer neem?”
Botha aanvaar dat Bok-proewe “deel van die ou bedeling” was en dat die noodsaaklikheid daarvan bevraagteken kan word. In ’n gewone rugbyseisoen druk die tyd waarskynlik te veel daarvoor, maar die kalender is onder die huidige, buitengewone omstandighede nou vloeibaar.
“Al wat ek sê, is dat dit jou ’n bietjie ekstra speelkans gee as die tyd daar is, en tweedens speel jy ’n bietjie onder vreemde omstandighede en is daar natuurlik druk op jou,” sê Botha.
Sulke “proewe” kan straks oorweeg word indien Suid-Afrika weens die Covid-19-pandemie vir eers in isolasie rugby gaan moet speel.
In proewe kry een of twee ouens tog ’n geleentheid wat nie noodwendig in ’n (enkele) Noord-Suid-wedstryd die geval sou wees nie

Naas Botha destyds in aksie in die Groen-en-Goud. Foto: Gallo Images
“Daar is ouens wat hulle in die verlede by Bok-proewe in die span ingespeel het, en ander wat hulself uitgespeel het. Of daardie ingesteldheid nog teenwoordig is, weet ek nie,” sê Botha.
“Ek neem aan afrigters het ’n redelike idee wie hul beste spelers is en byt vas met hulle.”
Botha sê daar hoef nie eintlik eers na sulke wedstryde as proewe verwys te word nie.
“Jy kan twee of drie Noord-Suid-wedstryde speel,” sê hy.
“In proewe kry een of twee ouens tog ’n geleentheid wat nie noodwendig in ’n (enkele) Noord-Suid-wedstryd die geval sou wees nie,” sê Botha.
“Daar mag ’n ou by ’n kleiner unie wees wat nog nie regtig raakgesien is nie. Dit kan vir hom ’n geleentheid wees om sy staal te toon.”