Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-pyn vir Haaie se Aphelele Fassi
Fassi
Die Haaie se briljante jong heelagter Aphelele Fassi sal vir drie tot vier maande weens ’n skouerbesering buite aksie wees. Hier vier hy en sy vleuel-spanmaat Makazole Mapimpi ’n drie. Foto: Gallo Images

’n Skouerbesering sal Aphelele Fassi, die opwindende heelagter van die Haaie, van sy groot kans ontneem om vanjaar die Springbok-trui te dra.

Dié 22-jarige oudleerling van Dale College in King William’s Town was die week onder die mes. Hy sal drie tot vier maande weens sy beseerde skouer uit wees.

Hy is as ’n sterk Bok-aanspraakmaker beskou nadat hy vroeër vanjaar een van die Suid-Afrikaanse sterre in die Superreeks was.

Die nasionale keurders het ná sy goeie spel vir die Haaie geen geheim daarvan gemaak nie dat hulle hom in Julie se toets teen Georgië sy Bok-kans wou gee. Dié toets, asook die twee teen Skotland, het weens die koronavirus in die slag gebly.

Fassi sou beslis ook ’n sterk aanspraakmaker op ’n plek in die Bokke se Rugbykampioenskapgroep van 46 spelers gewees het. Dis egter nog onseker of die Bokke aan die reeks sal deelneem. Dit word in November en Desember in Australië gespeel.

Nog drie van Fassi se Haai-spanmaats, S’bu Nkosi, Kerron van Vuuren en Madosh Tambwe, sukkel ook met beserings.

Ook hulle sal dus volgende week se Superfan-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld, en minstens die kragmeting tussen Suid-Afrika se Groen- en Goudspan op 3 Oktober in die Kaap misloop.

Die 24-jarige Nkosi het ’n borsbeenbesering. Dis onseker of die Bok-vleuel betyds vir die aanvang van die Curriebekerreeks sal herstel.

Die 23-jarige Tambwe het drie weke gelede ’n dyspierbesering opgedoen. Hy behoort oor ’n paar weke ná sy graad 1-skeur terug op die veld te wees.

Werner Kok is een van die Haaie se nuwe aanwinste. Foto: Gallo

Die 25-jarige Van Vuuren het ’n borsspier geskeur nadat hy vanjaar in die Superreeks uitgeblink het. Hy is vier weke gelede geopereer en behoort oor sowat twee weke weer voluit te kan oefen.

Om sake vir die Haaie te vererger, moet hulle reeds sonder hul ander Bok-vleuel, Makazole Mapimpi, in die Curriebeker klaarkom.

Die 30-jarige Mapimpi oefen tans voluit saam met die Haaie, terwyl hy op sy visum wag om hom hopelik binnekort by Johan Ackermann se Japanse klubspan NTT Docomo Red Hurricanes aan te sluit. Dit kan voor einde September gebeur.

Hy keer weer volgende jaar ná die voltooiing van die Japanse Topliga na Durban terug. Die Topliga begin volgens die huidige beplanning in Januarie en kan tot April 2021 duur.

Ondanks Fassi-hulle se beserings en Mapimpi se Japanse draai, sal die Haaie se goeie inkopies vroeër vanjaar egter hul uitvoerende hoof, Eduard Coetzee, rustig laat slaap.

Op heelagter sal die Haaie in Fassi se afwesigheid onder meer die oud-Bul Manie Libbok en Cheetah Anthony Volmink kan oorweeg.

Volmink is veelsydig en kan ook vleuel speel. Nog twee aanwinste om in Nkosi, Tambwe en Mapimpi se afwesigheid op vleuel te speel, is die Blitsbokke Werner Kok en Muller du Plessis.

Meer oor:  Aphelele Fassi  |  Haaie  |  Besering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.