Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vlug-nagmerrie om by gesin te wees

Dit was ’n nagmerrie, maar uiteindelik het die Springbok-agtsteman Duane Vermeulen laat Donderdagmiddag dit net betyds terug Kaapstad toe gemaak om die tyd van inperking saam met sy gesin deur te bring.

Maar dit was ’n storie vir dié Bok-ster wat gestrand in Japan gesit het ná vier gekanselleerde vlugte. Hy is “gered” deur die onverwagse goedheid van ’n vreemdeling met pers hare.

Vermeulen sê hy is “ongelooflik dankbaar” om terug by die huis te wees nadat hy vroeër die week aan Rapport gesê het hy gaan in Japan gestrand sit.

“Ná drie gekanselleerde vlugte het ek opgegee,” het hy in ’n boodskap gesê.

Duane vermeulen
Vermeulen is hy saam met sy vrou, Ezel, en hul seuns, Anru en Zian.

Maar ’n boodskap van ’n vreemdeling, en ’n nagmerrie-reis terug via drie lande het hom uiteindelik tuis gebring.

Vermeulen is gelukkig terug, asook die Bok-senter Jesse Kriel, wat ook Donderdag in Suid-Afrika aangekom het. Maar ander Bokke – insluitend RG Snyman, Damian de Allende en Malcolm Marx – is in Japan gestrand en weet nie wanneer hulle na Suid-Afrika sal kan terugkeer nie. Marx is veral in ’n moeilike situasie, met sy meisie wat ’n dokter in ’n Johannesburgse hospitaal is.

Vermeulen vertel hy het sy kaartjie al bespreek gehad toe hy snuf aan die neus kry dat die Japanse rugbyliga afgestel sou word.

“Ons het ’n spanvergadering gehad, maar ek het my kaartjie toe alreeds bespreek om die Maandagaand uit te vlieg. Ek het by spelers van ander klubs gehoor wat sou gebeur. Ons is aangesê om op 13 April terug in Japan wees.

“ ’n Klomp van ons was opgewonde om huis toe te gaan en het lughawe toe gegaan. Maar voor ons vertrek het, het Damian (de Allende) my ’n boodskap gestuur om te sê die vlug is met vier ure vertraag.

“Dit het beteken ons sou ons tweede vlug in Dubai ook mis. Ek en Malcolm (Marx) het besluit om vroeër te gaan om dit te probeer uitsorteer. Die mense by die toonbank was nie baie hulpvaardig nie en het ons ’n tolvrye nommer gegee om te bel. Ons het uitgevind ons sou ons geld eers ses weke later terugkry en dit het my negatief laat raak.

“Ons het toe ’n kaartjie op ’n ander lugdiens bespreek, en is terug na ons woonstel om te wag. Terwyl ek en Malcolm ’n bier gedrink het, het David Bulbring ingekom en gesê ‘jy sal dit nie glo nie, die Etihad-vlug is gekanselleer.’ Dit was vlug nommer twee.”

Intussen het Vermeulen se vrou, Ezel, vir hom op ’n vlug via Bangkok op Ethiopian Airlines probeer bespreek. Maar Covid-19-sertifikate is benodig, wat dae sou vat, en daar was eenvoudig nie tyd nie.

van der merwe
Van der Merwe

“Jesse (Kriel) het toe gebel en gesê sy eerste vlug op Qatar Airways is gekanselleer, maar daar was ’n tweede vlug wat ’n 21 uur-wagperiode op die lughawe in Doha gehad het. Ek het vir hom gesê om te wag, ek is op pad.

“Ek kon nie aanlyn kom om die bespreking te doen nie. Ek is met ’n taxi lughawe toe om daar die kaartjie kontant te koop. Die ou agter die toonbank kon my nie help nie. So dit was die derde vlug.”

Terwyl die spelers op die Emirates-vlug gewag het, het ’n toevallige ontmoeting met ’n Suid-Afrikaner, Alizane van der Merwe, Vermeulen se probleem opgelos. Van der Merwe het ’n boodskap gestuur en gesê sy vlieg Woensdagaand uit op Ethiopian Airlines.

“Dit was die onbekende weldoener wat ek nie geken het nie. Ek onthou haar as die meisie met die pers hare. Sy het vir my gesê die vlug gaan vertrek en ook vir my die toonbank se nommer gegee. Omdat ek nie aanlyn kon bespreek nie, het ek gesmeek dat hulle kontant aanvaar.

“Gelukkig het die lugdiens ingestem en ek kon kontant betaal vir die kaartjie,” vertel Vermeulen.

Vermeulen het toe via die Narita-lughawe in Tokio na Seoul in Suid-Korea gevlieg, en toe na Addis Abeba in Ethiopië, voordat hy uiteindelik in Kaapstad geland het. En by elk lughawe is sy koors gemeet.

“Ná 24 uur was ek uiteindelik terug in die Kaap, en ek is nou in selfisolasie.

“Ek kan nie eens dink hoe ek sou gevoel het as ek nie by my gesin was nie. Ek is net ongelooflik dankbaar,” het Vermeulen gesê.

Ander Suid-Afrikaanse spelers op dieselfde vlug as Vermeulen, was Reniel Hugo, Clinton Swart en Carl Wegner, terwyl Kriel saam met SP Marais, Jan de Klerk, Kobus van Dyk en Rynier Bernardo teruggevlieg het.

Kwagga-Smith het ook Sondag na Suid Afrika teruggekeer, maar Jean Droste, Lionel Cronje, Jason Jenkins en Matthys Basson is steeds in Japan gestrand.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Covid-19-Virus  |  Japan  |  Rugby  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.