Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-sege 'net regte doepa vir wêreldrugby'

Die Springbokke se sege oor die All Blacks in Wellington Saterdag, is oor die wêreld heen geloof as “net die medisyne wat rugby nodig gehad het”.

Die Bokke het 226 duikslae uitgevoer en die All Blacks só onder druk geplaas. Hier sak Damian de Allende toe op Beauden Barrett. Foto: Getty Images

Sommige rugbyskrywers – vernaam Nieu-Seelanders – was egter nie so gaaf nie en het veral die tuisspan se besluit om nie in die doodsnikke ’n skepdoelpoging te loods nie, skerp veroordeel. Het die Kiwi’s met so ’n skop geslaag, sou die span met 37-36 gewen het.

In die Daily Telegraph in Londen skryf Ben Coles die Bok-sege herinner aan die Britse en Ierse Leeus se sukses oor die wêreldkampioen in Wellington verlede jaar. “Dis moes net so ’n smaaklike sege gewees het vir die Suid-Afrikaners, hul eerste oor die All Blacks in nege jaar.

Die Bok-heelagter Willie le Roux glimlag breed na die Bokke se verrassende sege. Foto: Getty Images

“Spesifiek een toneel het presies vasgevang wat dit vir die Suid-Afrikaner beteken het om daar te wen: die emosionele Pieter-Steph du Toit wat skaamteloos huil na die eindfluitjie. Die grootsheid van die sege het op daardie oomblik ingesink.

“Die flank was manjifiek. Hy het op sy eie 28 van die Bokke se verstommende 226 duikslae uitgevoer, ’n hele klompie daarvan toe die All Blacks in die doodsnikke die besoekers se doellyn meedoënloos aangeval het, een swart golf op die ander swart golf, en dit terwyl SA net 14 spelers op die veld gehad het.”

Coles het ook kop gekrap oor hoekom die tuisspan nie teen die einde die sege met ’n skepdoel probeer verseël het nie.

Die loesing maak nie van die All Blacks ’n swak span nie. Hy is steeds kop en skouers bo die res van die wêreld.

“Die span se vele foute sou vergete gewees het as Beauden Barrett of Damian McKenzie agter die losgemaal gaan stelling inneem het vir die skepskop, terwyl die span enkele meter van die doellyn was en die Bok-verdedigers by die talle fases ingesuig is.”

Nigel Botherway het in sy rubriek in The Times geskryf Suid-Afrika het die rugbywêreld ’n “massiewe guns bewys” en bevestig dat “Nieu-Seeland geklop kan word: dat die voormalige onaantasbare manne in swart tog ook net mense is wat onder druk foute begaan”.

“Maar moet jouself nie bluf nie. Die loesing maak nie van die All Blacks ’n swak span nie. Hy is steeds kop en skouers bo die res van die wêreld. Sy eie foute het grootliks bygedra tot sy ondergang teen die Bokke, maar die besoekers was mans genoeg om dié geleenthede aan te gryp.”

Die Bokke het 226 duikslae uitgevoer en die All Blacks só onder druk geplaas. Hier sak Damian de Allende toe op Beauden Barrett. Foto: Getty Images

Mahlatse Mphahlele het in die Suid-Afrikaanse uitgawe van Sunday Times geskryf die Springbokke het bykans bomenslike vasberadenheid gewys om die sege te behaal.

“Ofskoon die Bokke indrukwekkend was in die bonuspuntsege oor hul geswore vyand, moet ’n mens onthou dat die All Black-losskakel Beauden Barrett vier stelskoppe verbrou het wat die verskil in die eindtelling tot gevolg sou hê.”

Jon Doel van Wales Online het geskryf SA se sege is “een van die heel grootstes” in onlangse rugbygeskiedenis.

“Die einste Bokke het skaars ’n jaar gelede teen die einste teenstander met 57-0 verloor en nie in nege jaar die All Blacks in hul agterplaas geklop nie.

“Maar dit als het Saterdag in ’n verbluffende vertoning van moed en deursettingsvermoë verander.

“Baie mense sal dit beskou as die uitslag wat rugby desperaat nodig gehad het, aangesien die magtige All Black-masjien in onlangse toetse onstuitbaar was en voor Saterdag nege op ’n ry gewen het.”

Tog, na 82 uitmergelende, aanskoulike minute se toetsrugby, het trane van blydskap in die Bok-kamp gevloei.

Doell het verwys na die gifpenne in Nieu-Seeland wat die Walliese skeidsregter, Nigel Owens, kap oor hy nie ’n opmerking van een van sy assistente gehoor het oor onkantspel deur die Bokke in die doodsnikke nie.

“Tot sy groot krediet het die span se breier, Steve Hansen, agterna gesê daar is geen nut daarin om aan te karring oor die situasie met die skeidsregter nie. Hansen se sober benadering na die loesing verdien applous. Hy is reg as hy sê rugby gaan daaroor om jou geleenthede te benut. En Saterdag het die Bokke hulle s’n beter as die All Blacks s’n benut.”

Craig Lewis, senior rugbyskrywer van die South Africa Rugby Magazine, het geskryf die Wellington-skok was ’n “klassieke kragmeting tussen twee aartsvyande” en een wat vir lank nog onthou sal word.

“Na twee loesings voor die toets het die Bokke te staan gekom teen ’n span wie hulle nog net een keer die afgelope 12 toetse kon klop. Die geskiedenis was teen hulle. Niemand het hulle ’n kans gegun nie.

“Tog, na 82 uitmergelende, aanskoulike minute se toetsrugby, het trane van blydskap in die Bok-kamp gevloei. En is daar ’n nuwe stukkie geskiedenis in Wellington geskryf.” – stuff.nz, reuters, wales online

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Wellington  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.