Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-skok: Herschel, Frans in

Herschel Jantjies kan een van die skok-keuses wees wanneer Rassie Erasmus sy Springbok-groep aankondig vir die toets teen die Wallabies in die Rugbykampioenskap in Julie.

Die Stormers se ramkat-skrumskakel word ná verskeie uithaler-vertonings deur die Springbok-keurders hoog aangeslaan.

Die 23-jarige Jantjies het tot nou toe in minder as ’n dosyn Super-wedstryde gespeel nadat hy vir ’n tyd lank van die rugbytoneel af verdwyn het.

Herschel Jan-tjies is pens en pootjies in die Springbok-gesprek ná sy goeie spel in vanjaar se Super-reeks.

Hy kon verlede jaar skaars speelkans in die WP-span vir die SuperSport-reeks kry en hy het gevolglik by die Universiteit Wes-Kaapland se Varsitybeker-span gaan draai.

Nou, ná ’n klompie puik vertonings agter die Stormers-oond, staan hy voor in die ry van die plaaslike skrumskakels om in Erasmus se Bok-groep te wees.

Tensy hy oor die volgende paar weke totaal die kluts kwytraak, sal hy op 20 Julie op Ellispark in ’n Rugbykampioenskaptoets teen die Wallabies vir sy goeie spel vir die Stormers in die Superreeks beloon word.

Jantjies is in dié stadium ’n kortkop voor Embrose Papier en Ivan van Zyl in die wedloop vir die Springbok-groep.

In teenstelling met Papier en Van Zyl is Jantjies onlangs na een van die Bokke se belyningskampe in die Kaap genooi, toe die Stormers ’n loslootjie gehad het.

Papier en Van Zyl is nie tydens die Bulle se loslootjie na die Bokke se belyningskamp in Pretoria genooi nie.

Frans Steyn in aksie vir Montpellier.Foto’s: Getty

Jantjies het die nasionale keurders dié seisoen veral beïndruk deur sy opvolgwerk en ondersteunende spel, wat dikwels tot drieë gelei het.

Die vinnige wyse waarop hy die vloei van die spel opsom, tel ook baie punte in die keurders se boek.

Sy skopwerk en bereidwilligheid om te leer, is nóg redes waarom hy Papier en Van Zyl verbygesteek het.

Rynhardt Elstadt en Frans Steyn is nog twee spelers wat nie verlede jaar onder Rassie Erasmus ’n Bok-kans gekry het nie, maar teen die Wallabies losgelaat kan word.

Die verwagting is dat Erasmus spelers soos Faf de Klerk en Damian de Allende nie teen die Wallabies sal kies nie, maar vir die toets teen die All Blacks in Wellington op 27 Julie sal betrek.

De Klerk is Erasmus se eerstekeuse-skrumskakel.

Northampton Saints se Cobus Reinach is self die seisoen vuurwarm en Francois Hougaard is ook in die gesprek wat skrumskakels vir die Wêreldbekertoernooi in Japan betref.

De Allende se swaar werklas dié seisoen gee aan die 32-jarige Steyn die kans om teen Australië sy aanspraak op ’n plek in die Wêreldbekergroep te versterk. Steyn het in 2017 die laaste van sy 56 toetse gespeel.

Die 29-jarige Elstadt se goeie spel vir sy Franse klubspan Toulouse en beserings aan verskeie voorspelers het hom vir ’n toetsdebuut in berekening gebring.

Elstadt en die vaskopstut Vincent Koch tel onder die oorsese spelers wat vir die Rugbykampioenskap betrek sal word.

Die Bok-bestuurspan beplan ook om beseerde spelers soos Siya Kolisi en Lood de Jager teen die Wallabies na die speelveld te laat terugkeer.

Meer oor:  Wallabies  |  Frans Steyn  |  Rassie Erasmus  |  Herschel Jantjies  |  Bokke  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.