Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-skrumghoeroe brei Rose nou

Die man met intieme kennis van die Springbokke se skrumwerk, een van hul grootste troefkaarte in verlede jaar se Wêreldbeker-triomf, Matt Proudfoot, is nou amptelik lid van Engeland se afrigtingspan.

Die Engelse Rugbyunie (RFU) het Maandag op sy webwerf aangekondig dat Proudfoot en Simon Amor die twee nuwe lede van Eddie Jones (hoofbreier) se afrigtingspan vir die komende Sesnasiesreeks is.

Matt Proudfoot gaan voortaan Engeland se voorspelers afrig.Foto: Getty Images

Die 47-jarige Proudfoot, wat tussen 1998 en 2003 in vier toetse vir Skotland gespeel het, sal die Rose se nuwe voorspeler-afrigter word. Hy vervang Neal Hatley.

Amor, afrigter van Engeland se sewesspan, word die Rose se nuwe aanvalsafrigter. John Mitchell bly aan as verdedigingsafrigter en Steve Borthwick (voorheen lynstaan-afrigter) sal Eddie Jones as vaardigheidsafrigter bystaan.

Engeland het met die werwing van Proudfoot ’n groot slag geslaan, aangesien sy skrumwerk juis een van sy grootste swak punte in die Wêreldbeker-eindstryd teen die Springbokke was. Die Bokke het in daardie faset die grondslag gelê vir hul derde WB-titel.

“Die Sesnasiesreeks is ’n nuwe begin vir die span en dis hoe ons dinge by die afrigtingspan ook benader. Met Neal wat Bath toe is, het ons gevoel dis belangrik om nuwe bloed in die voorspelers se afrigting te kry.

“Matt Proudfoot het tot dusver ’n uitstekende loopbaan as afrigter gehad, met die WB-oorwinning ’n hoogtepunt.

“Hy sal ons heelwat tegniese vaardighede en kennis bied aangesien hy in Suid-Afrika en Japan afgerig en in Skotland en Suid-Afrika gespeel het.

“Ons voel ons kan ons voorspeler-spel na ’n volgende vlak neem en voortbou op die goeie werk wat Neal en Steve die afgelope vier jaar gedoen het.”

Matt Proudfoot het tot dusver ’n uitstekende loopbaan as afrigter gehad, met die WB-oorwinning ’n hoogtepunt.
Simon Amor

Proudfoot het sy nuwe span met die intrapslag heuning om die mond gesmeer en gesê “Engeland is waarskynlik die beste span in die wêreld om af te rig.

“Met dié dat ek al teen hulle afgerig het, het ek geleer om hul identiteit (as rugbyland) te respekteer. Dis ’n groot eer en voorreg om hulle nou te help afrig.

“Ek is dankbaar teenoor Eddie, die res van sy afrigtingspan en die RFU dat ek hierdie kans gegun word.”

Proudfoot was van 2016 af by die Springbokke betrokke toe hy aanvanklik Allister Coetzee se hulpafrigter was.

Toe Rassie Erasmus in 2018 by Coetzee as Bok-hoofafrigter oorgeneem het, was die plan glo aanvanklik nie vir Proudfoot om aan te bly nie. Omdat hy egter nog ’n bindende kontrak met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gehad het en dié liggaam nie die geld gehad het om hom uit die res van sy kontrak te koop nie, het hy noodgedwonge aangebly in sy pos.

Dít het egter goed uitgewerk vir Suid-Afrikaanse rugby gegewe die groot rol wat die Bok-pak verlede jaar in die verowering van die Rugbykampioenskapstitel én WB gehad het.

Meer oor:  Matt Proudfoot  |  Eddie Jones  |  Engeland  |  Wb-Rugby  |  Suid-Afrika  |  Rose  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.