Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bok-slot Juandré, Bulle se paadjies skei

Die voormalige Springbok-slot Juandré Kruger se beplande swanesang by Loftus Versfeld was van korte duur.

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) het Vrydag bevestig daar is ’n wedersydse ooreenkoms met Kruger bereik sodat hy van sy kontrak vrygestel kan word.

Kruger is ’n jaar gelede teruggelok Pretoria toe nadat die Bulle die dienste van die Bokke Lood de Jager, RG Snyman en Jason Jenkins verloor het.

Die plan was dat hy nog in 2021 ook vir dié franchise beskikbaar sou wees.

Juandré Kruger vroeër vanjaar in aksie vir die Bulle teen die Blues op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Hy is in 2013, kort nadat hy ’n Springbok geword het, by die Bulle weg en het sedertdien vir die Franse klubs Toulon en Racing Metro en in Engeland en Wallis vir onderskeidelik die Northampton Saints en die Scarlets gespeel.

Kruger was aanvanklik vanjaar een van die senior manne in die agttal, maar hy is oor die hoof gesien toe die Bulle in die Superreeks in Australië gaan toer het.

Sy naam was daarna ook op die lys van oorbodige spelers nadat Jake White in Maart as die Bulle se direkteur van rugby aangestel is.

Kruger het in die afgelope Superreeks Unlocked-kompetisie nie een keer die Bulle se 23-tal gehaal nie.

White het verskeie ander slotte soos Walt Steenkamp, Sintu Manjezi en Jan Uys Pretoria toe laat kom en was duidelik nie van plan om Kruger te kies nie.

Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die BBM, sê Kruger sal altyd onthou word as ’n uiterste beroepspeler.

“Hy was uitstaande wat sy werketiek, toewyding en geesdrif betref en ons wens hom sterkte toe vir die toekoms.”

Die Krugers gaan na Stellenbosch verhuis sodat hulle kinders daar kan skoolgaan, maar die 35-jarige oud-Kapenaar sê hy het nog nie oor sy loopbaan besluit nie.

“Ek is nie seker of ek weer gaan speel nie. Ek groet die Bulle op goeie voet en daar is geen kwade gevoelens nie.”

Kruger sê in ’n verklaring van die Bulle hy sal altyd die tyd wat hy in ’n Bulle-trui deurgebring het, koester.

“Ek wil graag die spelers, bestuur en personeel by Loftus alles van die beste toewens.

“Ek wil ook almal wat my as ’n speler en ’n mens help vorm het, van harte bedank vir die rol wat hulle gespeel het.”

Die 22-jarige slot Ruan Nortjé tree vanjaar sterk op die voorgrond en White voorspel ’n blink toekoms vir hom.

“As ek na sy werkverrigting kyk, herinner hy my aan spelers soos Franco Mostert en Pieter-Steph du Toit. Hy is baie bedrywig en ek hou van sy ingesteldheid,” sê White.

Meer oor:  Juandré Kruger  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.